Lienke, Rian en Armand is Struisies se topdrie!

Van links is Lienke le Roux, Rian Maartens en Armand Orffer. Foto’s verskaf

DIE Hoërskool Oudtshoorn spog weer vanjaar met hul matriekuitslae nadat die klas van 2021 uitstekende punte gelewer het ten spyte van ’n moeilike paar jaar.

Uit die skool se 104 kandidate, het 103 die matriekeindeksamen geslaag. 78,4% van hierdie leerders het universiteitstoelating met hul punte ontvang, en die skool kan spog met 87 A- en 147 B-vakgemiddeldes. Verder het die skool vyf Struisies wat A-gemiddeldes behaal het, en drie wat dit net-net gemis het.

Die skool se top-3 kandidate is Lienke le Roux met ’n gemiddelde persentasie van 89,7%, Rian Maartens met 88,3%, en Armand Orffer met 85%.

Lienke (18) het sedert haar graad 8-jaar elke jaar eerste op die skool se merie­telys gestaan. Sy het in al sewe haar matriekvakke A’s behaal: Afrikaans huistaal, Engels huistaal, wiskunde, lewens­oriëntering, rekeningkunde, fisiese we­- ten­skappe en lewenswetenskappe.

Met dié besonderse uitslae gaan Lienke vanjaar medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer. “Ek is baie opgewonde daaroor! Ek gaan medies studeer omdat ek hoop om ’n verskil in mense se lewens te maak en hulle te help, te inspireer en te motiveer! Dit is nie net my belangstelling nie, maar ook my passie!” het sy opgewonde vertel.

Lienke, wat verlede jaar die Struisies se hoofmeisie was, dien al sedert haar graad 8-jaar op die skool se VRL. Prestasies was daar baie, soos toe sy verlede jaar onder die toptien in die nasionale taalbond­eksamen geëindig het.

Maar dit is nie nét akademie wat Lienke prikkel nie! “Ek is lief daarvoor om te lees en flieks of reekse te kyk, en ook om saam met my sussie na Taylor Swift te luister! Om in die veld te stap is ook een van my gunsteling stokperdjies,” vertel sy.

Lienke se pa, John, is ’n mediese dokter en haar ma, Sarlène, ’n gekwalifiseer­de onderwyser, maar is tans ’n tuis- bly-mamma. Haar sussie, Marisa, is 11 jaar oud.

Haar gesin, familie en elkeen van haar onderwysers het ’n baie groot rol gespeel in haar uitslae, sê Lienke. “Eerstens wil ek net vir die Here dankie sê dat hy my deur alles heen gedra het. Ek wil ook vir my gesin, familie en vriende dankie sê vir al hulle liefde en ondersteuning.”

Rian (18) het ses A’s in sy sewe vakke behaal: rekeningkunde, besigheidstudies, wiskunde, Engels eerste addisonele taal, rekenaartoepassingstegnologie en lewens-oriëntering. Hy het ’n onderskeiding in Afrikaans huistaal met slegs 2% misgeloop.

“Ek is dankbaar vir al die genade en wysheid wat ek van die Hemelse Vader ontvang het sowel as elke onderwyser wat ’n rol gespeel het in my sukses. Laerskool Van Reede was ’n goeie fondament en het my voorberei om net my beste by Hoërskool Oudshoorn te gee,” sê die beskeie Rian.

Rian gaan vanjaar met sy studie om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word aan Noordwes Universiteit in Potchefstroom begin. “Dit is ’n rigting wat hand-aan-hand met my sterk punte loop,” sê hy.

Op skool was hy laer- en hoërskool hoofseun en in graad 12 sekretaris van die VRL.

Dié vriendelike oud-Struisie het in sy graad 10-jaar vierde gekom in ’n nasiona­le besigheidstudies-olimpiade.

Hy is ook trots daarop dat hy voor die pandemie drie rugbywedstryde vir Strui­sies se eerste span kon speel, en lid was van sy skool se uitstaande Ad Astra-koor.

Rian is die seun van Maria Maartens, ’n administratiewe klerk by Acker & Maloney. “Mense ken haar as Maria van die Spur, want sy werk al vir 24 jaar deeltyds by die Spur,” vertel hy. Sy pa, Francois Maartens, woon en werk in Beijing.

Armand (19) spog ook met ses A-simbole in sy sewe matriekvakke: in wis­kunde, fisiese wetenskappe, lewensoriën­- tering, rekeningkunde, Engels eerste addisionele taal asook ingenieursgrafika en ontwerp.

Met sy uitstekende punte in beide wiskunde en fisiese wetenskappe – twee van sy gunstelling vakke – gaan Armand vanjaar bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

“Ek was nog altyd geïnteresseerd daar­in om te sien hoe goed werk en hoekom dit werk, en dit is hoekom ek ingenieurs­wese gekies het,” sê hy.

Op skool, vertel Armand, was die meeste van sy prestasies op akademiese gebied. Hy het van graad 8 tot 12 aan wiskunde-olimpiades deelgeneem en van graad 10 tot 12 aan die De Beers English Olympiad.

As hy nie agter sy lessenaar sit nie, hou hy van draf en fietsry. Hy geniet dit om tyd in die natuur te spandeer, en het ’n “groot belangstelling in karre” vandat hy klein is. “Ek versamel Hotwheels en CAR-tydskrifte. Ek geniet dit om ou rekenaars en tegnologiese toestelle uitmekaar te haal en te kyk hoe dit werk,” vertel hy.

Armand se pa, André, is ’n predikant by die NG Kerk Oudtshoorn-Wes, terwyl sy ma Amanda as oudioloog werk.

“Ek het slegs my uitslae behaal deur harde werk, regdeur my skoolloopbaan. My ouers het my ook al die pad onder­steun en gemotiveer.”

“My vriende se ondersteuning was ook vir my belangrik omdat hulle my gemotiveer het om harder te werk en ek baie kompeterend is. Vir my is ’n goeie verhouding met die Here baie belangrik. Die onderwysers en ekstra klasse het ook verseker dat ek in my belangrikste vakke presteer.” (Deur Stefan Skapie Goosen)