Hoërskool Protea spog met hul eerste matriekklas !

Die Hoërskool Protea se drie toppresteerders, van links Shane-Lee Melight (3de), Lezanne Herwel (1ste) en Kesha Kiewitz (2de) by hul trotse prinsipaal, Granwell Strydom. Foto: Garnett Wicomb

DIE eerste matriekklas van die Hoërskool Protea op Oudtshoorn wat sy deure vyf jaar gelede geopen het, het vriend en vyand verras met ’n slaagsyfer van 87,9%.

Van die 33 kandidate wat 2021 se matriek­eind­eksamen afgelê het, was 29 suksesvol terwyl een nie die volle eksamen afgelê het nie. Die klas het in vyf van die sewe vakke wat die skool aanbied 100% slaagsyfers behaal.

Volgens die skoolhoof, Granwell Strydom, is hy supertrots op die klas van 2021, maar net so trots op die matriekonderwysers wat vir die eerste keer vir matrikulante klas gegee het. Hy was ook vol lof vir die ouers en beheerliggaam se ondersteuning die moeilike afgelope twee jaar.

Hy het ’n beroep op vanjaar se matrikulante gedoen om voort te bou op wat hul voorgangers vermag het. “Protea is nou op die map en ’n skool om op trots te wees,” het Strydom gesê.

Die skool se drie toppresteerders was Lezanne Herwel, Kesha Kiewitz en Shane-Lee Melight.

Die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Mina Hufke, het die 2021-matrieks gevra om te onthou waardeur hulle gekom het en dat dit die Here was wat hulle deurgedra het.

Sy het ’n beroep op hulle gedoen om, wanneer hulle eendag doktors, dokters en professore is, terug te kom en nie hul rûe op die skool draai nie.

• Die Hoërskool Môrester het ook puik pres­teer met ’n verbetering van 16,4% teenoor die vorige jaar. Vanjaar se slaagpersentasie was 73,3% teenoor die vorige jaar se teleurstellende 56,9%.
Chernique Claassen (72%), Suhane Jacobs (68.7%) en Jo-Anneline Ewerts (67.3%) was die skool se drie toppresteerders. (Deur Garnett Wicomb)

1 Comment on "Hoërskool Protea spog met hul eerste matriekklas !"

  1. Shantel Schoeman | 30/01/2022 at 13:58 |

    Welgedaan mnr Strydom, span sowel as leerders. Mnr Strydom het desjare by BSS vir my onderig gegee… Hom laas in vroë 90s gesien.

Comments are closed.