Gimmies se Hannelize en Tanishka is gereed vir die toekoms!

Van links is Hannelize Olivier (18) en Tanishka Jansen van Vuuren (19). Foto’s verskaf

GEBOUE, paaie en strukture fassineer haar en daarom gaan sy vanjaar siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer, vertel Hannelize Olivier (18), een van Langenhoven Gimnasium se toppres­teerders in die 2021-matriek­eksa­- men.

“Ek is baie lief vir die vak ingenieursgrafika en ontwerp en hou daarvan om met my hande te werk, buite te wees en goed te bou.”

Hannelize spog met ’n gemiddeld van 88,4% en onderskeidings in sewe vakke: Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, fisiese wetenskap, wiskunde, ingenieursgrafika en ontwerp, lewenswetenskappe en le­wensorientering,

Sy was tydens haar skoolloopbaan ook ’n gedugte sportvrou wat SWD-kleure verwerf het in atletiek, hokkie en biathlon, en was kaptein van die eerste hokkiespan.

“My belangstellings is sport, oe­fen, die buitelewe en die plaas. Ek geniet dit om aktief te wees, gereeld te ‘gym’, hokkie te speel en spies te gooi. Ek hou ook baie daarvan om my pa te help op die plaas en goed saam met hom te bou. Ek is ook lief vir perdry en vir diere.”

Sy is die dogter van André en Wilna Olivier. André boer by Volmoed, buite Oudtshoorn, en Wilna is ’n maatskaplike werker by Famsa.

Tanishka Jansen van Vuuren (19) wou ’n geoktrooieerde rekenmeester word sedert sy 15 was, vertel dié oud-Gimmie oor die beroep wat sy nou na matriek gaan nastreef.

“Ek is passievol oor dissipline, roetine en syfers en hierdie rigting bied dit alles aan my.”

Tanishka was een van Langenhoven Gimnasium se toppresteerders in die afgelope matriekeksamen met ’n gemiddelde persentasie van 87,7% en onderskeidings in ses vakke: Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, besigheidstudies, rekeningkunde asook ingenieursgrafika en ontwerp.

Tanishka vertel dat sy aanlyn deur Unisa gaan studeer en hoop om haar klerkskap by een van Oudtshoorn se rekenmeestersfirmas te doen terwyl sy studeer.

Nog ’n passie van Tanishka is kuns en sy geniet dit om in haar vrye tyd te skets.

“Ek lees ook graag hardeband boeke. Ek verkies om ’n boek met bladsye in my hande te hou in plaas van die elektroniese weergawes van vandag! Ek het ook ’n bruin gordel in karate en hoop om in die nabye toekoms my swart gordel te verwerf.

Hannelize is die dogter van Jan en Tracey Jansen van Vuuren en suster van Jade wat nou in graad 11 is. Haar pa is ’n opleidingsbeampte en forensiese deskundige in die SAPS en haar ma, wat as senior aktesekretaresse in die Kaap gewerk het totdat die gesin begin 2019 na Oudtshoorn verhuis het, is nou net ’n “mom’s taxi”, vertel Tanishka skertsend. (Deur Liesel le Roux)