Eden en Sentraal Karoo-distrik spog met uitslae!

SKOLE in die Eden en Sentraal Karoo-onderwysdistrik, waaronder skole in en rondom Oudtshoorn val, kan trots wees op hul 2021-matriekuitslae nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangekondig het dat dié distrik die tweede beste uit agt distrikte in die Wes-Kaap gevaar het, én ook onder die toptien-distrikte in die land is.

Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder vir die WKOD, het die Eden en Sentraal Karoodistrik se slaagsyfer na 84,4% gestyg vanaf die vorige jaar se 79,1%, en het die baccalaureus-slaagsyfer óók gestyg na 46,4% teenoor die vorige jaar se 39,8%.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, sê die Eden en Sentraal Karoo-onderwysdistrik is een van twee WKOD-distrikte wat landwyd onder die top-10 presterende distrikte tel. Die ander is die Metro-Noord-onderwysdistrik. Volgens Schäfer het die Eden en Sentraal Karoo-onderwysdistrik die grootste styging in die slaag­syfer van enige distrik in die Wes-Kaap getoon.

Sy was vol lof vir die direkteure van hierdie twee distrikte.

“Hierdie is ’n wonderlike prestasie, veral onder die huidige moeilike omstandighede,” het sy gesê.

Oor die WKOD se uitslae oor die algemeen het Schäfer gesê sy is “absoluut verheug”.

“Ons provinsiale slaagsyfer is deur die nasionale minister van onderwys, Angie Motshekga, aangekondig as 81,2% – ’n styging van 1,3% vanaf die vorige jaar.

“As in ag geneem word dat dit bereik is na twee jaar van ’n wêreldwye pandemie, maak dit die prestasie nog meer merkwaardig. Die klas van 2021 het ’n moeilike twee jaar gehad. Hulle graad 11-jaar in 2020 is deur skoolsluitings geskend, met hul graad wat later as baie van die ander teruggegaan het klas toe.”

Schäfer sê die uitslae sou nie moontlik gewees het as dit nie was vir al die ekstra werk wat gedoen is nie.

“Ons skole, distrikte en hoofkantoor het baie tyd gespandeer aan die poging om hierdie kandidate voor te berei, vanaf ekstra klasse in die middae en oor naweke, ekstra hersieningsmateriaal, aanlyn-hersieningsondersteuning en ’n magdom ander maatreëls. Die resultate spreek vanself!” (Deur Stefan Skapie Goosen)