Whatsapp jou ‘Lunchbox’

Van links: Hesmé Loff, Colin en Samoline Solomons

Van links: Hesmé Loff, Colin en Samoline Solomons

Deur Wyndham Ewerts  

In die besige Adderleystraat sien jy die helderblou Lunchbox-stalletjie dadelik raak. Die gewilde stalletjie is in die middel van die Suid-Kaap Kollege-studente se daaglikse leef- en beweegarea geleë, en ook te midde van ’n konstante vloei van pendelaars en verbygaande motors.

Die eienaars, Colin en Samoline Solomons, vertel hulle het sowat ’n jaar gelede besluit om hul eie besigheid te begin nadat hulle bewus geraak het van die hoë pryse van party kosstalletjies by die KKNK.

“Ek en my vrou het net daar en dan besluit om ons droom ’n werklikheid te maak, en dadelik skouer aan die wiel gesit om ons eie koswaentjie te bekom. Gelukkig het ons albei ’n onblusbare passie vir die voorbereiding van smaaklike kos. So dit was nie moeite nie,” vertel Nico skertsend.

Een van die redes hoekom The Lunchbox gewild is, is die feit dat jy deur WhatsApp ’n bestelling kan plaas en dit by jou huis of werkplek afgelewer kan word, sonder enige verdere koste. Kliente kan ook verwag om deur Hesmé Loff, die Smiths se assistent, se geheime magic sauce getrakteer te word.
“Vars en bekostigbare kos is ons nommer een-doelwit, en ons leuse – Passion for Perfection – is iets wat ons daagliks in ons besigheid uit­leef,” sê Nico.

The Lunch Box is Maandag tot Vry­dag van 08:30 – 17:00 en Saterdag vanaf 08:00 – 15:00 oop.
Die stalletjie is ook beskikbaar vir funksies, sportge­leenthede of party­tjies.
Kontak hulle by 084 056 8055 of thelunchbox007@gmail.com.