Briewe / Letters

Die afgelewerde water van De Rust.

Die afgelewerde water van De Rust.

Sal u dié water drink?

Die skenking waarvan ek praat, is die water wat ek vandag (gister) in De Rust getap en by u afgelewer het!

Dit lyk werklik nie soos die water in die foto nie. Ek wonder of u dit sal drink? Aangesien u nie op my vorige e-pos gereageer het nie, het ek besluit om vir u die werklike produk te bring terwyl ek op Oudtshoorn is om te gaan water “leen” by ’n vriend.

Ek weet dit is nie die grootste pro-bleem in die land nie, maar vir ons wat vanaf 5 Januarie 2017 gereeld 66 km moet pendel vir wasgoed en drink- water is dit diefstal dat ons dieselfde tarief vir ons geel tot swart water betaal as Oudtshoorn vir sy helder drinkwater.

Die probleem is dat ons nie ’n filtreerstelsel het nie. Die aantal betalende inwoners is te min om so ’n stelsel te regverdig. Hoeveel nie-betalende inwoners het De Rust en Blomnek?

Ek weet nie. Al wat ek weet is dat daar baie inwoners is wat nooit sal betaal nie. Die gier hier is om drie AFS- kinders te kry. Deernis sorg vir huis, krag, water en die bottelstoor.

Drie kinders gee ’n Sassa-salaris! Ek verstaan baie matriekmeisies is swang-er by die skool. Dalk iets om te ondersoek? Wat staan ons te doen?

Ek weet nie hoe om dit in my verstand te kry dat ons nou nie sterk op pad terug is na 1652 nie.
Dit is nie net die munisipale amp-tenare se skuld nie. Daar is baie goeie amptenare wat deur politiek gepooitjie word. Ek het ’n lang brief aan die raad geskryf oor hoe ons in die steek gelaat word. Natuurlik wag ek verniet op ’n antwoord.
Karen Louw, De Rust

Dankie aan Eskom!

Sowat twee weke gelede, op Vrydag, 24 Februarie, het dit skielik hard op die plaas waarop ons woon, Middelplaas, buite Oudtshoorn begin reën. Dit was net voor 17:00 en kort ná die reën begin het, het ’n haelbui ook daar uitgesak. Die haelstorm het oral skade aangerig.

My vrou, Wilmine, het sowat 20 jaar gelede altesame 40 inheemse bome op die plaas geplant en van hierdie bome is reeds 80 sentimeter in deursnee.

Heelwat van die bome het gedurende die haelstorm tot op die grond afgebreek en omgeval – ’n bewys van hoe sterk die storm was.

’n Sipresboom wat meer as 100 jaar oud is en al sedert my 85-jarige pa, Johan, se kinderdae op die plaas is, het ook gedurende die storm omgeval en op die plaas se kragdrade beland. Skielik, laat op ’n Vrydagmiddag, sit ons toe sonder krag.

Ons het Eskom se noodnommer gebel en aan die beheerkamer verduidelik wat gebeur het en dat ons nou sonder krag is. Dink jouself maar in: ’n Hele naweek op ’n plaas sonder enige krag.

Die Eskom-personeel was egter baie vriendelik en het dadelik onderneem om die voorval as ’n noodgeval te rapporteer. Tot ons verbasing, skaars ’n half­uur nadat ons die beheerkamer gebel het, het ’n hele span van Eskom op die plaas opgedaag om ons te help. Een van die mans in die span was in daardie stadium van diens af, maar selfs hy het saamgekom om te kom hand bysit.

Ek wil graag my opregte dank teenoor Eskom en sy personeellede betuig.
Dankie vir die vinnige en knap diens wat julle aan ons gelewer het!

Die groep wat ons die dag gehelp het – onder leiding van Cle­ment Andries en Bennie Julius – was G Jones, A Mafrika, N Visagie, K van Tuhra, V Twala, A Dyakopu en Z Maliza.
– Sarel en Wilmine du Plessis, Vergelegen, Oudtshoorn