Dis vakansietyd, die hele familie kom bymekaar, en julle bereik uiteindelik jul bestemming. Die vakansie waarna mens al heel jaar uitsien, om net te gaan ontspan, rus en kwaliteittyd saam met jou geliefdes deurbring.
En dan gebeur dit…..iemand raak siek, of val en breek ’n been of verloor ’n tand. En nou hoe gemaak?
Sowat ’n jaar gelede besluit ons, om ook die gesin vir die Desembervakansie bietjie weg te neem na ’n heerlike vakansie-oord langs die Weskus. Die eerste keer in jare. Ons het altyd gespot dat ons die Tuinroete gaan besoek – eers die voor tuin en dan die agter tuin.
Die huisies is loopafstand van die strand af. Ons pak die visstokke en visnetjies in, die grafies en emmertjies, balle en rakette, bord speletjies vir as die weer sleg is en tot die kinders se fietse. Dit lyk kompleet soos die groot trek en voel ook so. Tot Karoo doringhout gaan saam want daar is niks beter vir braai nie.
Die eerste paar dae is die klagtes maar oor die algemeen sonbrand, maklik genoeg om op te los. Plekke wat mis gesmeer is, of wat nie na ’n swemsessie weer gesmeer is nie. ’n Kopseer hier, en ’n maagpyn daar. Kwale wat behandelbaar is deur die gewone algemene medikasie wat mamma inpak net vir ingeval.
Die eerste groot konsternasie kom een middag wanneer ek en die kinders besluit om ’n hoogspring kompetisie te hou. Om te kyk wie die hoogste in die lug kan spring. Plakkies en teëls werk nie so lekker saam nie, die seuns is soos altyd, gelukkig kaalvoet. Kaplaks, daar sit ek op my boude op die teëls. En pyn soos weerlig skiet deur my linker gewrig. Hier sit ons, op ’n vreemde plek, 20 km van die naaste klein Weskusdorpie af. Google soek gee ’n paar antwoorde, ons kies maar een en klim in die kar.
Dis ’n privaat hospitaal, en ons moet maar betaal en kan later van die medies af terugeis sou ons een hê, verduidelik die admin dame. ’n Hele paar uur later, ’n x-straal agter die rug, en ’n gewrig wat gebind is, is ons op pad terug oord toe.
Gelukkig nie gebreek nie, maar vir die res van die vakansie sit ek maar en kyk vanaf die kantlyn hoe die kinders lekker “kneeboard” op die dam agter vriende se boot. Ek doen alles tot die beste van my vermoë met een arm en mis ’n hele paar lekker avonture.
Terloops, toe ons op pad uit die hospitaal is kom een van die kinders wat ook vakansie hou by dieselfde oord in dieselfde hospitaal in saam met sy ouers. Die het geval met sy fiets: harsingskudding. Hy word oornag in die hospitaal gehou, sy ma moet ook oorslaap, en pa moet die ander kinders gaan versorg by die vakansiehuisie. Vir die res van die vakansie moet hy maar sy valhelm dra en mag hy nie saam die ander kinders fietsresies hou nie.
’n Paar dae voor ons vertrek breek my kiestand – een van my grootste vrese is dat my tande gaan uitval. Al die tandartse is toe, en ek het reeds ’n groot gedeelte van ons vakansiebegroting aan my gewrig spandeer.
Die tand moet maar wag tot by die huis. Gelukkig het ’n stopsel die werk gedoen, en dit was net ’n stukkie wat gebreek het. Dit het natuurlik die heeltyd gevoel of dit so groot soos Kimberley se gat is.
Dit het my laat dink – die gewrig was ’n ongeluk, maar dalk as ek by my tandarts ’n draai gemaak het voor die vakansie kon die tand dalk gered geword het. Mens laat tog jou kar nagaan voor mens die langpad aanpak, so waarom nie jou lyf nie.
Daar is dalk ’n maagsweer wat broei, of ’n tand wat later ’n probleem gaan word. ’n Rugpyn wat pla, maar sou mens dalk voor die vakansie die dokter sien, dalk ’n x-traal laat doen kan die vakansie pynloos wees.
Ek gaan beslis die jaar, voor ons Oudtshoorn verlaat, gaan vir ’n algemene “check-up” by my dokter, tandarts en sommer ook die fisioterapeut.
Die jaar gaan ek ook op daai “knee board” klim en die water aandurf, en beslis nie weer uit mis nie. (Deur Angelique Erasmus)