Weermagsersant sterf in fratsongeluk

Bo: Grantham Snyman (45) wat sy lewe verloor het in ’n ongeluk op die pad tussen Langebaan en Vredenburg op 24 November. Foto onder: Die wrak nadat die sleepwaentjie die motor getref het en dit die pad verlaat het. Foto’s verskaf

’n Sleepwaentjie het verlede week die lewe van ’n weermagsersant van Oudtshoorn, Grantham Snyman (45), geëis toe dit losgeraak het van ’n aankomende bakkie en voor die motor van Snyman beland het.

Hy was die seun van Willie en Katy Snyman van Sesdelaan, Colridge View, Oudtshoorn.

Die ongeluk het omstreeks 14:00 Vrydagmiddag op die pad tussen Langebaan en Vredenburg plaasgevind.

Volgens Glen Snyman, tweelingbroer van die oorledene, en stigter van die organisasies People Against Race Classification (PARC) en Death Penalty Supporters (DPS), was Grantham van sy werk in Langebaan onderweg na Vredenburg waar die gesin woon, om sy jongste dogter by die skool te gaan haal.

Die sleepwaentjie het van ’n aankomende bakkie losgeruk en voor die motor van sy broer beland waarna dit die pad verlaat het. Hy is op die toneel deur parmedici dood verklaar nadat hy uit die wrak van sy motor gesny moes word.

Volgens Glen was sy broer vir die afgelope 26 jaar verbonde aan die SANW 4 Spesiale Magte in Langebaan. Hy sal op Sondag 10 Desember te Vredenburg begrawe word.

Snyman laat sy vrou, Ladophica, twee dogters, Peunay-Jade (20) en Luchea (16), sy ouers, drie broers, William, Glen en Alwin, en twee susters, Estelle Strydom en Marlene Cupido agter.

Glen Snyman kan vir meer besonderhede oor die begrafnis van sy broer by 072 342 4926 geskakel word. (Deur Garnett Wicomb)