Vyf jaar tronkstraf vir man wat weer aan seksuele aanranding skuldig bevind word

’n 58-jarige man van Oudtshoorn wat aan seksuele aanranding van ’n sesjarige seuntjie skuldig bevind is, is Vrydag in die Oudtshoorn streekhof gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf.

Anton Koen het op 25 Desember 2021 in ’n huis in Calitzdorp sy geslagsdeel in die kind se gesig gedruk en die kind ook betas. Die kind se stiefpa het getuig dat hy die beskuldigde betrap het waar hy onder ’n kombers bo-op die kind gelê het.

Koen se suster het Vrydag ter versagting van vonnis die hof meegedeel dat hy na hul 85-jarige moeder omsien en die hof versoek om hom nie tronktoe te stuur nie. Sy regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof versoek om ’n korrektiewe toesig vonnis te oorweeg omdat hy die betrokke dag onder die invloed van alkohol was en nie meer jonk is nie.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het egter vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit nie die eerste keer is dat die beskuldigde aan seksuele aanranding skuldig bevind word nie. Hy is nie ’n eerste oortreder nie en is in 2012 ook aan seksuele aanranding, dié keer sy eie dogter, skuldig bevind en toe net ’n opgeskorte vonnis opgelê.

Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word. (Deur Garnett Wicomb)