Vermeende dwelmsindikaat vir eerste keer in streekhof

Die saak teen sestien verdagtes wat gesamentlik tereg staan op altesaam 54 aanklagte van handel in dwelms en geldwassery, is Maandag met hul eerste verskyning in die Oudtshoorn streekhof vir konsultasie deur hul onderskeie regsverteenwoordigers, en vir een om ’n regsverteenwoordiger te kry, tot 2 Februarie 2024 uitgestel.

Streeklanddros Daniel Boks het dit aan die verdagtes gestel dat die saak nie weer na ’n ander hof oorgeplaas sal word nie en die voorverhoor met hul volgende verskyning sal geskied.

Die ondersoek is volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, reeds voltooi.

Vyf van die verdagtes, Manfred John, Wilbur Paulsen, Arlington Hurling, Shaun Hendricks en Louis Emezo word aangehou terwyl borgtog en borgtogvoorwaardes van Reginald Fielies, Melvin Jacobs, Marshall Mc Clune, Vladimar Gordon, August Wild, Vivian Arries, Vincent Goba en Emile Jonas verleng is.

Ann Erasmus, Chantelelle Manewil en Magdalene Adams is op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)