Verkeerskantoor open eers Woensdag na inhegtenisnames dienste ernstig beïnvloed

DIE Oudtshoorn Verkeerskantoor sal weer Woensdag open, maar die inhegtenisname van verskeie personeellede die afgelope Vrydag deur die SAPD en Wes-Kaapse Departement Vervoer sal ‘n impak hê op dienslewering.

Volgens ‘n persverklaring van die munisipaliteit sal die volgende dienste beïnvloed word as gevolg van ‘n personeeltekort:

  1. Dienste vir leerling- en bestuurderslisensies asook die hernuwing van leerlinglisensies.
  2. Die verkeerskantoor sal tot verdere kennisgewing op ‘n Saterdag gesluit wees.
  3. Alle afsprake wat vir vandag en môre geskeduleer was (Maandag en Dinsdag) sal geherskeduleer word met kliënte wat ingelig sal word oor veranderde datums.

Aanlynopsie

Die bestuurder van verkeersdienste, Pat Jordaan, het die publiek aangemoedig om gebruik te maak van die aanlyn-lisensiehernuwingsopsie by online.natis.gov.za/#/

Die aanlynopsie kan egter slegs gebruik word indien ‘n lisensie nog nie verval het nie en die persoon in die besit is van ‘n bestuurderslisensiekaart.

Verkeerskantoor Maandag en Dinsdag gesluit vir traumaberading en beplanning

Luidens die persverklaring het die raad vanoggend met die personeel van die verkeerskantoor vergader oor die pad vorentoe sonder die hulp van ‘n groot deel van die personeel. Daar is besluit dat die personeel, wat klaarblyklik erg getraumatiseer is, traumaberading sal ontvang.

Die munisipaliteit gee in die persverklaring hul volle steun aan die ondersoek wat sonder die medewete van die munisipale bestuur plaasgevind het. (Deur Liesel le Roux)