Verkeersaak dalk spesiale hof toe

DIE saak teen elf verdagtes, ses verbonde aan die Oudtshoorn-verkeersdepartement en vyf van twee ryskole, wat tereg staan op aanklagte van korrupsie, bedrog en oortreding van die Padverkeerswet, is in die Oudtshoorn-streekhof tot 31 Oktober uitgestel vir moontlike oorplasing na ’n spesiale hof in Belville, Kaapstad.

Streeklanddros Ntsoki Moni het ná die medede-ling deur die staatsaanklaer die borgtog van R5 000, sowel as die borgvoorwaardes, van Noloyizo Tose (38), Thabo Mgaba (42), Sandile Johnson (44), Warren Coetzee (45), Yolande Stalmeester (34), Phumezo Tshomiso (35), Samuel van Hansen (45), Promises Sovasi (39) en Xolile Gaya (39) verleng. Ivan Human (60) en Ingrid Wagenaar (60) is om mediese redes op waarskuwing.

Die saak hou verband met die beweerde onwettige uitreiking van leerlinglisensies en rybewyse. – Garnett Wicomb