Verhoor van polisiegeneraal moet eers wag vir besluit van staatsprokureur

Donderdag buite die hof was van links Ronel Blignaut, adv Phyllis Vorster (AfriForum), Riana Stander (die klaer in die saak) en Tanja Kennedy. Foto verskaf deur AfriForum

DIE verhoor van Sandra Malebe-Thema (57), ’n polisiegeneraal wat teregstaan op klagtes van crimen injuria en Donderdag (4 Augustus) in die Oudtshoorn Landdroshof op die hofrol geplaas is, is tot 2 September uitgestel.

Luidens ’n mediaverklaring van AfriForum is die verhoor uitgestel nadat Malebe-Thema se regsverteenwoordiger aangedui het haar saak word deur die staatsprokureur hanteer en dat die firma wat haar verteenwoordig, nog nie deur die staatsprokureur goedgekeur is nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op grond van ’n waaksaamheidsopdrag namens Riana Stander (52), die klaer in die saak, die hofverrigtinge bygewoon.

Die saak is uitgestel om vas te stel of die prokureursfirma se aansoek by die staatsprokureur goedgekeur is en ’n verhoordatum vas te stel. Die staat het nie die aansoek om uitstel teengestaan nie asook nie die verdediging se versoek dat die beskuldigde nie op 2 September by die hof hoef te wees nie. Die verdediging het aangevoer dat sy in Pretoria bly en ver moet reis vir dié verrigtinge.

“Ons is teleurgesteld dat die beskuldigde daarin kon slaag om die verhoor verder te vertraag, aangesien hierdie saak reeds sedert 2016 sloer,” het adv Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervol­gingseenheid, Donderdag gesê.

“Landdros Graehymme Williams was egter vandag baie streng en het aangedui dat die staat en verdediging die hof van sy diskresie om ’n beslissing te maak rakende die uitstel van die saak beroof het deur vooraf ooreen te kom oor die uitstel. Ons is verder verheug dat die saak uiteindelik voor die hof is en sal voortgaan om vir Riana by te staan om toe te sien dat geregtigheid geskied.”

• Malebe-Thema (57) word daarvan aangekla dat sy op 7 November 2016 tydens ’n besoek aan die Oudtshoorn Polisie-akademie sewe opleidingsbeamptes na die verhoog geroep en voor sowat 450 rekrute op- en aanmerkings oor hul voor­koms gemaak het. Sy het na bewering beledigende opmerkings gemaak oor hul kleredrag, gewig en velkleur onder toejuiging van die rekrute.

Luidens AfriForum se verklaring het sy onder meer haar eie vraag rakende wat fout was met die mense op die verhoog beantwoord deur te sê dat hulle te wit is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het aanvanklik geweier om die beskuldigde te vervolg en eers nadat die privaatvervolgingseenheid in Julie 2019 namens Stander ’n nolle prosequi-sertifikaat versoek het om privaat te vervolg, die besluit hersien om nie te vervolg nie.

Stander het in November 2016 net ná die voorval ’n klag ingedien. Sy is merendeels as gevolg van die trauma en spanning van die voorval intussen medies ongeskik verklaar en nie meer in diens van die SAPD nie.