OM in jou matriekjaar te presteer te midde van die uitdagings van ’n pandemie, is klaar ’n uitdaging, maar vir die Fourie-tweeling van Oudtshoorn was dié uitdaging nog groter toe hul pa in hul matriekjaar gesterf het.
Phillip en Pierre Fourie (18), leerders aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal, het egter bewys dat dit wel moontlik is en onderskeidelik met gemiddelde persentasies van 86% en 82,3% geslaag! Phillip het sewe onderskeidings, en Pierre vyf behaal. Hulle is onder hul skool se topmatrieks van 2021.
Die tweeling se pa, ook Pierre, was ’n bekende Oudtshoorniet en die eienaar en bestuurder van Barons Palace op Oudtshoorn. Hy is in Julie 2021 aan Covid-19 oorlede.
Volgens Pierre (Jnr) was dit nie ’n maklike aanpassing nie, maar het die koshuislewe hom en sy broer geleer hoe om selfstandig te wees.
“My vriende by Oakdale was meer as net vriende, hulle was broers en het kort-kort seker gemaak dat ek reg is. Mnr Latsky, ons skoolhoof, het ook my en my broer gereeld gekontak en seker gemaak ons is reg en dat ons nie iets nodig het nie; al was dit net ’n vinnige gesprek in die skoolgang,” sê hy.
Hy sê hy glo dat die eindeksamen en sy matriekjaar meer betekenis gekry het as gevolg van hierdie swaar, emosionele tyd.
“Ek het dit vir my pa gedoen, en geweet hoe trots dit hom sou maak. My pa het sterk waardes gehad en het geglo in dissipline, maar hy was altyd daar vir my en het vir my opgestaan en beskerm wanneer ek moeilikheid gehad het,” vertel hy.
Phillip sê op sy beurt dat die mense wat sy pa geken het, en die broers se vriende, hom deur die tyd gehelp het. Veral sy twee broers, suster en sy ma, Benita Rust, se ondersteuning het ook baie gehelp. “Ek het probeer om my pa trots te maak in wat ek doen, so ek sal sê dit het my gehelp en gedruk om nog steeds goed te presteer,” sê hy.
Phillip vertel met heimwee dat hy sy pa sal onthou as die man wat alles sou doen vir die mense vir wie hy omgee en lief is.
“Ek sal hom ook onthou vir die advies wat hy kon gee. Soos wat een van sy vriende gesê het: my pa het die manier gehad dat as jy by hom kom sit het, sou hy luister, en kon hy jou altyd kalmeer of help om ’n probleem op te los.”
Die tweeling se ma woon tans op Yzerfontein.
• Pierre het A-simbole in vyf uit sy sewe vakke behaal in wiskunde, Engels, fisiese wetenskappe, lewensoriëntering en rekeningkunde. Hy gaan vanjaar elektriese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
Buiten skool, sê Pierre, het hy ’n liefde vir die natuur. “Ek hou van oefen by die gimnasium, en tydens vakansies wil ek by die see wees of gaan jag. Anders help ek waar ek kan by die hotel.”
Pierre sê hy het ook die Kalahari Vasbyt voltooi, wat volgens die Vasbyt se webtuiste “een van die moeilikste, indien nie die heel moeilikste nie, fisieke en emosionele kursusse (is) wat enige tiener enige plek ter wêreld kan doen”.
• Phillip het op sy beurt sewe A-simbole uit sy agt vakke behaal: Afrikaans, Engels, wiskunde, ekonomie, rekeningkunde, landboutegnologie en toerisme. Hy gaan vanjaar B Rek aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
Hy hou daarvan om boeke te lees en te jag, en geniet dit om F1-motorsport te kyk. “In die res van my vryetyd help ek uit by die hotel,” sê hy.
Hy sê ook: “Ek wil ook net sê dat die onderwysers by Oakdale my baie gehelp het met leer en met ondersteuning. Verder het my klasmaats vir my baie beteken, want na vyf jaar saam op koshuis raak hulle almal jou broers. Toe ons begin het met die eindeksamen was ons ’n groep van 86 broers wat dit saam gedoen het,” sê hy. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Tweeling ryg onderskeidings in ten spyte van groot verlies
