Tinus se reis oor 41 jaar van portier tot assistent-direkteur

Tinus Oosthuizen wat afgetree het as assistent-direkteur finansies by die Oudtshoorn Hospitaal. Foto: Liesel le Roux

HY was 19 jaar oud toe hy in 1980 die enigste beskikbare werk, as portier by ’n hospitaal in Johannesburg, met albei hande aangegryp het, vertel die Oudtshoorniet Tinus Oosthuizen.

Van dié pos het Oosthuizen hom opgewerk tot die verantwoordelike pos van assistent-direkteur finansies by die Oudtshoorn Hospitaal, wat hy beklee het met sy aftrede einde 2021.

Hy vertel dat hy in 1980 as portier by die JG Strijdom Hospitaal in Aucklandpark, Johannesburg, begin werk het nadat hy van Albertinia na Johannesburg verhuis het.

“Ek het na Johannesburg verhuis waar my broer Helgaard gewoon het omdat daar nie werk op Albertinia, waar ons gewoon het, beskikbaar was nie.” Oosthuizen wou graag administratiewe werk by die hospitaal doen, maar daar was slegs ’n pos vir ’n portier.

“Ek was desperaat en het dit aanvaar. Maar twee weke daarna het ’n pos vir ’n administratiewe assistent beskikbaar geraak en het ek dit gekry.”

Nie lank daarna nie is hy aangestel as senior administratiewe assistent en het hy na die finansiële afdeling geskuif.

Hy het in hierdie tyd ook sy vrou, Marah, met wie hy in 1983 getroud is, ontmoet.

Vandag lê daar agter hom ’n lang loopbaan in hospitaaladministasie wat strek van die JG Strijdom Hospitaal, toe die Tembisa Hospitaal in Midrand waarheen hy in 1992 geskuif het en sedert 1995 by die Oudtshoorn Hospitaal.

Hy het in 1995 nadat sy broer oorlede is, ’n pos as administratiewe beampte by die Oudtshoorn Hospitaal aanvaar omdat hy dan nader aan sy ma sou kon woon.

Oosthuizen was vanaf 2015 assistent-direkteur finansies by die Oudtshoorn Hospitaal. (Deur Liesel le Roux)