Slaggate in deurpaaie sal voor KKNK herstel word

GROOT slaggate in drie deurpaaie deur Oudtshoorn – Baron van Reedestraat, Voortrekkerweg en Langenhovenweg – sal voor die aanvang van die KKNK herstel wees, sê Johan Duvenage, wyksraadslid vir Wyk 2.

Die Hoorn het Duvenage verlede week genader oor die groot slaggat in Baron van Reedestraat – die sogenaamde goue myl wat na die Kango Grotte lei – nadat twee navrae die afgelope weke oor die herstel van slaggate nie deur die munisipaliteit beantwoord is nie.

Dié slaggat, wat net al groter geword het met voertuie wat in die aankomende verkeer se baan moes ry om dit te ontwyk, val in Wyk 2. Dit is intussen herstel.

Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chad Louw, het in sy 100 dae-verklaring ook aangedui dat die departement tegniese dienste aandag skenk aan slaggate in Oudtshoorn se strate.

“Die departement tegniese dienste is hard aan die werk aan die herstel en onderhoud van strate in Oudtshoorn.

“Party dele is reeds voltooi, met Parkweg en Meulstraat wat binnekort herseël sal word.


“Padherstelwerk aan Rus-, Aandblom- en Boegoestraat asook aan Eerste Laan is volgende aan die beurt.”
Slaggate in Oudtshoorn se strate en deurpaaie is vererger deur harde reënstorms einde November en begin Desember verlede jaar. (Deur Liesel le Roux, berig aangepas sedert eerste plasing)