DIE kwartaalikse raadsvergadering op Vrydag 22 September is ontwrig deur lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu).
Die unie wou ’n versoekskrif aan die raad voorlê. Die Speaker, Johan Allers, het die vergadering verdaag toe die Samwu-lede die raadsaal binnegestorm en die deure versper het sodat geen raadslid of personeel die raadsaal kon verlaat nie. Die SAPD en wetstoepassers is ontbied en daar was hewige woordewisselinge tussen raadslede en lede van Samwu. Nadat ’n Samwu-lid hul eise voorgelees het, is die raadslede toegelaat om die raadsaal te verlaat.
Volgens ’n mediaverklaring wat later die middag uitgereik is, het die burgemeester die unie na sy kantoor genooi waar hy die versoekskrif ontvang en geteken het.
Die burgemeester, Chris Macpherson het dit duidelik gemaak dat die manier waarop Samwu opgetree het, onaanvaarbaar was. Volgens hom sou daar geen probleme gewees het nie as die unie vooraf met die speaker gereël het vir ’n spreekbeurt.
Die ANC-koalisie het in ’n verklaring voor die raadsvergadering eise gestel dat die burgemeester moet bedank. Hulle eis het te make met die aanstelling van ’n politieke ampsdraer as kantoorbestuurder vir Dysselsdorp en De Rust. Die verklaring lees verder dat weens swak diens-lewering en hoë tariewe die bur- gemeester, onderburgemeester en Speaker opsy moet staan.
Volgens die ANC-koalisie het die DA-koalisie die geveg met slaggate verloor. Die ANC-koalisie het hul ongelukkigheid oor die aangeleenthede ná die raadsvergadering op die trappe na die munisipale gebou gewys.
Teen druktyd was kommentaar van die munisipaliteit nog nie ontvang nie.