SACBW sluit jaar op ’n hoogtepunt af

Vroue van Oudtshoorn, Mosselbaai en George kuier heerlik saam tydens die SACBW se afsluiting. Links onder: Oudtshoorn is goed verteenwoordig tydens die funskie.

DIE SA Raad vir Sakevroue (SACBW), het Dinsdag hul jaar op ’n hoogtepunt afgesluit met ’n laaste netwerk-geleentheid by Diaz Strand Hotel in Mosselbaai.

Meer as 60 vrouens van Oudtshoorn, Mosselbaai en George het die oggend saam spandeer.
Die drie SACBW takke van die onderskeie dorpe se lede en gaste is ook toegespreek en geïnspireer deur die entrepreneur Alita du Plessis van Purple Carrot, van Pretoria.

Du Plessis se aanlyn-winkel verkoop ’n verskeidenheid produkte soos juwele en handsakke, om ’n paar te noem vir mans, vroue, kinders en selfs vir jou geliefkoosde troeteldier.

Sy het tydens haar toespraak die woorde van Henry Ford aangehaal “Whether you think you can, or you think you can’t-you’re right,” en vroue daarop gewys dat hul tot baie instaat is wanneer hulle nie net skouer aan die wiel sit nie, maar ook hul denk- en sienswyse oor hulself verander.

Oudtshoorn is ook goed verteenwoordig met meer as 10 dames wat die geleentheid bygewoon het.

Bianca Olsen, voorsitter van die nuwe Oudts-hoorntak het ook die geleentheid gehad om die dames te inspireer, en ’n voorspoedige 2024 toe gewens.

Enige dames wat belangstel om by die SACBW aan te sluit is welkom om vir Olsen by 072 535 2256 te kontak of ’n e-pos te stuur na oudtshoorn@sacbw.org.

Die SACBW is reeds 35 jaar aan die gang en aktief betrokke om besigheidsvrouens in alle verskillende besigheidsbedrywighede te ondersteun en ’n platform te bied waar hul mekaar kan ondersteun en ophef.

Tans is daar landswyd sowat 15 takke, met honderde besigheidsvrouens wat aan die organisasie behoort wat in 1988 deur Rika Venter gestig is.