ReWOLusie wen Blou Fiësta!

’n Groep vroue van Oudtshoorn wat verlede jaar by die ReWOLusie-projek betrokke geraak het, vier Oudtshoorn se Blou Fiësta saam met Madeleine Miles (middel agter in blou), die inisieerder en stukrag agter die projek. Voor van links is Alwena Ellis, Anita Schoeman, Evelina Fortuin, Adéle Marais en Gerty Jonkers. Agter van links is Deleze van der Walt, Helene Lourens, Madeleine Miles, Hermien van der Westhuizen en Gloria Hendricks. Foto: Liesel le Roux

’N GEMEENSKAPSPROJEK op Oudtshoorn is Sondagaand by die jaarlikse kykNET Fiëstas met die gesogte Blou Fiësta bekroon, die toekenning wat vir sonderlinge prestasies op ’n kunstefees gegee word.

Die bekroonde projek is die ReWOLusie-projek waartydens die dorp verlede jaar die dag voor die KKNK deur inwoners met kleurvolle brei- en hekelwerk versier is.

Die Blou Fiësta is Sondagaand in die Kunste­Kaap-operahuis in Kaapstad aan die kunstenaar en stukrag agter die projek, Madeleine Miles, oorhandig.

Hierdie was inderdaad ’n historiese oomblik vir Oudtshoorn, waar die inwoners van ’n dorp se samewerking met ’n kunstefees met ’n fiësta bekroon is.

Die goeie nuus is dat die reWOLusie-projek vanjaar voortgesit word. Hierdie keer gaan dit eers iets wees om te aanskou, sê Madeleine.

“Dis mos maar altyd lekker as die juffrou ’n goue sterretjie in jou boek plak! Maar vir my persoonlik gaan ons projek al lankal nie net meer oor hekel en brei of mooimaak en komberse nie.

“Dit gaan oor menswees, hoe elkeen van ons waarde vind in onself, by mekaar en in ons gemeenskap. Dit gaan daaroor hoe ons met mekaar bande bou, grense oorskry en met volslae trots te kan sê: Ek is Oudtshoorn! Elkeen wat betrokke was of is, verdien ’n toekenning.”

Die komberse waarna Madeleine verwys, dui op ’n inisiatief om vanjaar al die brei- en hekelwerk in komberse te omskep as deel van die 67 blankets-projek en dit in die plaaslike gemeenskap te versprei.

Vroue wat sedert verlede jaar betrokke geraak het by die projek het vandeesweek aan Die Hoorn vertel hoe dit gegroei het tot iets veel groter as net ’n handwerkprojek en ook ’n “rewolusie” in baie van hulle se lewens veroorsaak het. Vir party het dit die skans teen eensaamheid geword met nuwe vriendskappe wat oor gemeenskapsgrense gesluit is, vir ander het dit heling gebied na die dood van ’n geliefde of hulle gehelp om moeilike omstandighede draagbaar te maak.

“Dit is fantasties dat jy op so ’n manier kan uitreik en omgee. Omgee kos niks,” sê Hermien van der Westhuizen, een van die vroue.

Deleze van der Walt wat hekelklasse gee en deur wie baie van die vroue by die ReWOLusie betrokke geraak het, beaam dat die projek deesdae oor baie meer as brei of hekel gaan.

Sy vertel dat die projek vroue uit verskillende gemeenskappe bymekaar uitgebring het, iets wat nie daarsonder sou gebeur het nie. “Ons leef baie geïsoleerd van mekaar. En op ’n natuurlike manier het dit net gebeur. Dit is goed om te sien hoe bly almal elke keer is om mekaar te sien.”

Helene Lourens vertel dat dié handwerk saam met ander haar deur die tyd na haar man se dood gedra het. “Dit verplaas jou na ’n ander planeet en jy voel ook nie meer soos ’n vyfde wiel aan die wa nie. Ek pas nou iewers. Ek leer en is betrokke by wonderlike mense. Hekel bring mense by­mekaar.”

“Brei en hekel hou jou kop besig en bring heling vir die siel en gees,” sê Alwena Ellis.

• Johan van Lill, sameroeper van die Fiësta­paneel, het in sy toespraak die volgende gesê oor die Blou Fiësta: “Ek dink nie iemand wat vanjaar by die KKNK was, sal die bolle en bolle wol se kunswerke wat die strate en bome versier het, ooit kan vergeet nie.

“Dit het ’n unieke en homogene identiteit aan die strate van Oudtshoorn gegee tydens die fees en het boekdele gespreek oor hoe gemeenskappe kan saamwerk om kuns vir ’n goeie doel te skep.

• Enigiemand is welkom om steeds betrokke te raak by die Rewolusie-projek, ook selfs al kan hulle nie brei of hekel nie omdat daar heelwat klaar gebreide en gehekelde blokke van Eljada en van die ouetehuise is wat opgesit moet word. Almal wat wil help of saam wil hekel of brei, kan Madeleine kontak by sel 083 436 1153. (Deur Liesel le Roux)