Oudtshoorniet wen R31,4 in ’n Lotto Plus-trekking!

‘n Vrou van Oudtshoorn het die afgelope week R31,4 million in ‘n Lotto Plus 1-trekking gewen.

Volgens Ithuba, wat die nasionale lotery bestuur, het die vrou R40 op haar lottokaartjie bestee wat sy by ‘n winkel, volgens hulle Dahley & Khandaker, op Oudtshoorn gekoop het. Sy het self haar nommers gekies.

Die meeste geld wat die vrou tevore gewen het, is R150. Sy is in haar vyftigs en werkloos.

“Ek was baie geskok toe ek uitvind dat ek gewen het, maar ek beplan nie om my lewe op enige manier drasties te verander nie,” het sy aan Ithuba gesê.

Die vrou verkies volgens Ithuba dat mense nie van haar nuwe rykdom uitvind nie en het net haar naaste familie daarvan vertel. Sy beoog om van die geld op haar familie te spandeer en die res te belê om mense in nood te help.

Dit is die tweede Oudtshoorniet wat binne ses maande groot geld by die Lotto wen. Nog ‘n werklose vrou was op 7 Desember die wenner van die Lotto-boerpot van R14 miljoen. (Liesel le Roux)