Oudtshoorn-raadslid aangekla van verkragting en aanranding

EEN van Oudtshoorn se nuwe munisipale raadslede het vroeër vandag in die hof op die dorp verskyn op aanklagte van verkragting, aanranding met die opset om ernstig te beseer en twee aanklagte van gewone aanranding.

Die saak teen die verdagte, wat nog nie op die klagtes gepleit het nie en wie se naam dus nog nie gepubliseer mag word nie, word daarvan aangekla dat hy op 2 Oktober 2021 ‘n 39-jarige vrou in ‘n huis in Dassieweg, Bridgton, verkrag, op die grond neergegooi en op haar kop getrap het.

Hy word ook aangekla dat hy op 29 September 2021 ‘n 16-jarige meisie met ‘n stukkie hout geslaan en ‘n ander minderjarige met die plat hand geslaan het.

Landdros Vaughen Shone het die verdagte se borgtog van R300 asook sy borgvoorwaardes verleng tot 28 Januarie wanneer hy in Streekhof 3 moet verskyn. Van sy borgvoorwaardes is dat hy nie met die getuies kontak mag maak nie; nie by verdere misdaad betrokke mag raak nie en moet wegbly van die adres van die klaers. (Deur Garnett Wicomb)