‘Om ’n onderwyser te wees was my lewe’

Ronnie Burton (81). Foto verskaf

DIT het alles begin toe Ronnie Burton (81) as jong seuntjie die Kersfeesdiens in die Anglikaanse kerk bygewoon het. Dit was op daardie oomblik dat die vlam van drama en die kunste hom geprikkel het en sy hele lewe verander het.

“As jy mooi daarna kyk, is die dienste in die kerk amper soos ’n toneelstuk. Elke persoon het sy plek. Dit is soos om in ’n teater te sit en ’n toneelstuk te kyk, ” sê Burton passievol.

Mnr Burton of Mr Burton, soos hy liefdevol bekend staan op die dorp, het oor die afgelope dekades ’n groot rol in die Oudtshoorn-gemeenskap gespeel. Met ’n onderwysloopbaan wat oor meer as 50 jaar gestrek het en met meer as 60 drama-produksies op sy kerfstok, het hy die lewens van baie verander.

Burton, wat in 1941 in Gqeberha, destyds Port Elizabeth, gebore is, het in 1959 sy onderwysloopbaan by die Spandau Sekondêre Skool in Graaff-Reinet begin. Daarna was hy dosent by die destydse Onderwyskollege Suid-Kaap, en daarna by die Dower Onderwyskollege in Gqeberha.

Burton het sy BA en honneursgraad in drama aan die Universiteit Kaapstad verwerf. Hy het ook in Engeland verder studeer, waar hy gefokus het op “Theatre in Education” by die gesogte Newcastle Upon Tyne.

Daarna het Burton besluit dit was tyd om sy vlerke te sprei en na Namibië verhuis. Hy was vir sewe jaar by die Onderwyskollege van Windhoek werksaam as die rektor.

“Ek was gelukkig in Namibië, dit was ’n wonderlike werk, maar ek het geweet my plek in die wêreld is nie as rektor nie, maar voor die klas.”

Na sy sewe jaar in Namibië het hy teruggekeer Oudtshoorn toe waar hy by Suid-Kaap Kollege en Principia Kollege, ’n destydse privaatskool op die dorp, werksaam was.

Dit was by Principia Kollege waar hy vir die eerste keer drama as skoolvak aangebied het.

Burton het ook gedien as moderator vir die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se senior sertifikaat-eksamen. Hy het voorts leiding en advies gegee aan meesterstudente van die Universiteit van die Vrystaat., en was vir ses jaar een van die raadslede van die KKNK.

Sy eertydse studente praat net met lof van hom – hy het geen doekies omgedraai nie en was eerlik en opreg.

Glynn April, wat vir baie jare saam met Burton aan verskeie produksies gewerk het, het ’n groot bewondering vir hom.

“Hy is die perfekte dramaturg. Ons het sewe produksies saam gedoen. Hy het ’n besonderse manier gehad om met kinders te werk,” vertel April.

Volgens Gysie Strydom, skoolhoof van Hoër­skool Protea, saam met wie Burton ook aan verskeie produksies gewerk het, praat met die grootste lof van hom.

“Hy is ’n perfeksionis in alles wat hy doen; ’n Mense-mens en jy weet presies waar jy met hom staan.”

Die meeste Oudtshoorniete ken Burton as die “meester”-regisseur wat vele skoleproduksies suksesvol aangepak het.

Volgens Burton het hy 65 produksies op Oudts­hoorn geïnisieer. Hy was die regisseur vir produksies van Principia Kollege, Suid-Kaap Kollege, Bridgton Sekondêr, Morestêr Sekondêr, De Villiers Primêr en Colridge Primêr. Van sy produksies was die bekende Grease, Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, Oliver en vele andere.

“Daar was nooit tyd vir iets anders nie, om ’n onderwyser te wees was my lewe. Ek het al my tyd en energie op dit toegespits. As ek ’n keuse gehad het, sou ek alles weer dieselfde doen en niks verander nie. Daar was nooit ’n oomblik wat ek ongelukkig was nie,” vertel Burton.

As onderwyser het hy 52 jaar met die jeug ge­werk. Opvoeding is belangrik vir hom en hy glo die jeug is die sleutel vir die toekoms.

“As jy ’n droom het, gaan vir dit. Sit alles in jou mandjie en moenie opgee nie. Jy moet jou eie drome waar maak, niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Bly nederig en volg jou eie pad, want jy moet bereid wees om hard te werk,” sê Burton. (Deur Chanté Darries)

2 Comments on "‘Om ’n onderwyser te wees was my lewe’"

  1. Susan Eleanor Lawrence (LE ROUX ) | 30/01/2022 at 17:22 |

    Hi Ronnie I agree with all your sentiments. What an achievement you have reached. The Lord has blessed us both with with the mouth of the Learned .That is what the Bible says. My years with teaching has spanned 60years as well. When we were children at primary and High school in P.E we never knew what was install for us .We both have left our Footprints deep in Education. We have lost track of each other over the years. It would be such a pleasure to meet up with you again for a cup of coffee ,a chat ,a Laugh of our childish pranks at school.
    The Lord Bless you abundantly.
    Much love
    Eleanor

  2. Dr PW Erasmus | 29/01/2022 at 20:48 |

    Alle eer aan die wonderlike onderwyser en mentor! Hy het my mens gemaak!!!

Comments are closed.