Die saak teen Patrick Rondganger (36) wat van moord op sy meisie se pa aangekla word is in die Oudtshoorn streekhof vir pleit en verhoor tot 2024 uitgestel.
Rondganger het regshulp bekom na die onttrekking van sy regsverteenwoordiger, Bradley Machaels, met sy vorige verskyning.
Hy is deur streeklanddros Sylvia Mandla gewaarsku dat hy besig is om speletjies te speel en die verhoor sal voortgaan indien hy weer hof toe kom sonder ’n regsverteenwoordiger.
Die staat het reeds nie die voorgestelde vonnis in ’n moontlike pleitooreenkoms aanvaar nie.
Rondganger word daarvan aangekla dat hy in April 2022 die sestigjarige Eric Xaxaka van Bongolethu vermoor en sy lyk in ’n vlak graf onder twee yskaste begrawe het.
Hy het daarna glo saam met familie van die oorledene en die polisie na die vermiste Xaxaka gesoek en later ’n bekentenis gemaak.