Leerling sterf ná aanranding

Die 18-jarige Sheldon Fortuin wat op Sondag, 12 November oorlede is nadat hy op 28 Oktober aangerand is. Foto: Facebook

Sheldon Fortuin, ’n 18-jarige leerder van Hoërskool Môrester, is verlede Sondag oorlede nadat hy op 28 Oktober aangerand is.

Sheldon is na bewering op die Saterdagaand na die Rugby Wêreldbekereindstryd, voor Klub Fantasy in Hoogstraat aangerand. Hy was sedert die aanranding in ’n koma gewees. Dit is nog nie bevestig of Sheldon in George se hospitaal of op Oudtshoorn oorlede is nie.

Daar is op Facebook kommentaar gelewer dat Sheldon aangerand is omdat hy iemand beroof het. Daar is egter nog geen bevestiging daaroor deur die polisie gegee nie en niemand is nog oor die voorval gearresteer nie. “Daar is ’n moordsaak geopen na die dood van Sheldon Fortuin, en die polisie is besig met die ondersoek”, het sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie aan Die Hoorn gesê.

Daar gaan wel ’n nadoodse ondersoek op sy liggaam gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Die aanranding het op dieselfde aand plaasgevind waar Sharlaine Lamont, ook ’n 18-jarige leerling van Hoërskool Môrester, oorlede is in ’n tref-en-trap ongeluk in Dassieweg.

Haar kêrel Ralston Bezuidenhout, is ook ernstig beseer in die voorval en het al twee operasies in die Kaap ondergaan. Niemand is nog oor die voorval gearresteer nie. (Deur Lindi Brill)