Op Saterdag, 25 November, het Bennedette Landman (32) aan die Eden SA Top Model-kompetisie by die Diaz Hotel in Mosselbaai deelgeneem.
Daar was twee kategorieë naamlik “Glits & Glam” en “Theme”. Sy is gekroon as die Eden SA Top Model naaswenner, asook die prys vir mees fotogeniese deelnemer.
Landman is ook gekies deur “Scouted Pageant America” om Suid-Afrika in die VSA te gaan verteenwoordig.
Landman is die ma van twee pragtige dogters. Chrizette is twaalf jaar oud en Ella-Marie is agt. Die twee is natuurlik baie trots op hul mamma.
“Die gevoel vir ’n mamma om te weet jou kinders is trots op jou, maak alles die moeite werd”, het Landman aan Die Hoorn gesê.
Op ’n vraag aan Landman of haar kinders by haar is terwyl sy regmaak vir ’n kompetisie het sy geantwoord dat Chrizette haar altyd help om haar rokke aan te pas en dat sy ’n wakende oog oor haar grimering en hare hou om seker te maak alles is reg.
Dit was ook vir haar moeilik om weer modelwerk te doen na die geboortes van haar dogters.
“Ek het gedink ek gaan dit nie weer kan doen nie, maar ek het in myself geglo en vir myself gesê ek kán, en ek hét!”, het sy aan Die Hoorn vertel.
Sy wil ook vir elke vrou sê dat hulle nooit moet opgee op hul drome nie. “Volg jou drome ten volle”. (Deur Lindi Brill)