’N KRUIEDOKTER van Uganda wat na bewering ’n vrou van Oudtshoorn beloof het sy sal R40 000 vermeerder na R1,5 miljoen, verskyn Donderdag in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n borgaansoek.
Die kruiedokter, Justine Nambuya (27), staan ook bekend as Dr Eve en is verlede week deur die Oudtshoorn Polisie in hegtenis geneem.
Die polisie ondersoek ’n saak van bedrog teen Nambuya.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Nambuya na bewering in Desember die belofte van die vermeerdering van die geld gemaak, maar was daar nog geen teken van die R1,5 miljoen nie en is die oorspronklike R40 000 ook weg.
“Die klaagster het die voorval verlede week by die polisie aangemeld en die verdagte vrou saamgebring,” sê Visser.
Hy het die publiek gewaarsku teen slenters. “Mense is desperaat en neem verkeerde besluite. Indien daar mense is met nog inligting oor Dr Eve kan hulle die ondersoekbeampte, ao Christo Olivier, by 044 203 9079 kontak.