Klein Karoo se Gielie verbeter wêreldrekord

Gielie Basson van Calitzdorp voor sy braaier waar hy vir 84 uur aan-een gebraai het en sodoende ’n nuwe Guinness Wêreldrekord vir die langste braai opgestel het. Foto: Lindi Brill

Gielie Basson van Calitzdorp het die afgelope naweek vir 84 uur aaneen gebraai en so ’n wêreldrekord verbeter.

Basson, die eienaar van Zamani Grill op die dorp, het die ou rekord, wat deur ’n Suid-Afrikaner wat in die VSA woon opgestel is, met vier ure oorskry en so ’n nuwe ‘Guinness World Record’ vir die langste braai opgestel.

Hy het Donderdagoggend 21 September om 05:00 sy vuur aangesteek en teen 06:00 begin braai. Die reëls het bepaal dat daar op enige gegewe oomblik net vyf items op die braairooster mag wees. Hy moes alles self behartig.

Die ‘Guinness World Record’ fe-derasie bepaal dat die hele gebeurtenis op video vasgevang moet word. Basson het slegs twee ure rustyd per dag gekry, wat slaap, eet en badkamerpouses ingesluit het.

Daar was deurlopend twee moniteerders wat toesig gehou het en gekyk het dat die regte prosedure gevolg word.

Die reëls het ook bepaal dat geen van die kos wat Basson gebraai het verkoop kon word nie. Die braaivleis en mielies wat hy gebraai het is uitgedeel aan plaaslike instansies soos die polisie, nooddienste, kli-nieke, die ouetehuis, Vygieshof en die sopkombuis in Bergsig, Calitzdorp.

Deur die loop van die hele langnaweek was daar deurlopend ondersteuners wat hom moed ingepraat het.

Ná 80 ure, wat beteken het dat hy die rekord geëwenaar het, het Die Hoorn aan Basson gevra hoe hy op daardie tydstip voel. “Die keel is seer, ek is bietjie moeg, maar dit is baie lekker. Baie dankie aan julle almal se ondersteuning, ek waardeer dit!”

Al die dokumentasie van die moniteerders en die videomateriaal gaan eers deurgestuur word vir ontleding om die rekord te bevestig.

Dit sal min of meer twee maande duur voor die finale beslissing gegee sal word. (Deur Lindi Brill)