KKNK: Hase op Struisiesportgronde opgejaag

Yster Human, leerkrag van die Hoërskool Oudtshoorn, hardloop agter een van die hase aan om hom vas te keer tydens CapeNature se pogings om die hase met vangnette te vang. Op die inlas foto is Human met die klein hasie wat hy gevang het en aan CapeNature oorhandig het.

Yster Human, leerkrag van die Hoërskool Oudtshoorn, hardloop agter een van die hase aan om hom vas te keer tydens CapeNature se pogings om die hase met vangnette te vang. Op die inlas foto is Human met die klein hasie wat hy gevang het en aan CapeNature oorhandig het. (Foto’s: Schalk le Roux)

Theresa van der Westhuizen, bewaringsdienstebestuurder: Klein Karoo by CapeNature, wat die klein hasie in ontvangs geneem het om na sy welsyn om te sien.

Theresa van der Westhuizen, bewaringsdienstebestuurder: Klein Karoo by CapeNature, wat die klein hasie in ontvangs geneem het om na sy welsyn om te sien.

Deur Schalk le Roux

Terwyl werkers die Hoërskool Oudtshoorn se sportterrein by Hap-en-Tap in St Johnstraat vir die komende KKNK netjies gemaak het, het hulle per ongeluk ’n pa- en ma-haas en hul kleintjie gister (Woensdag) uit hul lêplek op die sportterrein opgejaag waarna hulle die hasepad gekies het.

Yster Human, ’n Strui­sie-leerkrag, was gou op die toneel en het die klein hasie, wat intussen gaan lê het, van agter bekruip en gevang.

Toe Die Hoorn op die toneel aankom was Danie Bester, wat nou bande met die Struisies het, en Mornay Thysse van Oudtshoorn Nooddienste reeds daar.

Daar is aanvanklik vermoed dit is oewerkonyne wat ’n bedreigde spesie is.

Theresa van der Westhuizen (links bo), bewarings­dienstebe­stuurder: Klein Karoo, by CapeNature, is ook ontbied en die hasie is aan haar oorhandig.

Toe Van der Westhuizen daar aankom, het een van die hase heen en weer op die sportgronde rondgehardloop terwyl die ander een weg was. Sy en ’n paar ander mense van CapeNature met die hulp van Human en Thysse het die haas in ‘n hoek probeer vaskeer om dit met vangnette te vang. Dit was egter vergeefs, want die haas was heeltemal te haastig.

Die haas het later deur ’n heining gekruip na die aangrensende bane van die Oudtshoorn Rolbalklub. Daar is ook probeer om die haas te vang. Dit was egter ook vergeefs, want die haas het eindelik deur die rolbalbane se omheining geglip na die rivier se kant, waarna dit nie weer gesien is nie.

Volgens Van der Westhuizen is dit nie ’n oe­wer­­konyn nie, maar ’n kolhaas.

Volgens Thysse is daar inwoners wat langs die Grobbelaarsrivier woon, wat vir hom gesê het hulle het al twee keer oewerkonyne by die rivier gesien.