Kannaland skors drie raadslede by vergadering

Die speaker van die Kannaland-raad, Rodge Albertus (links, Kannaland Independent Party - KIP) en die waarnemende munisipale be­stuur­der, Ian Avontuur Vrydag op Ladismith. Foto: Deon Meyer

DIE Kannaland-raad het Vrydagoggend (29 Julie) tydens ’n raadsvergadering op Ladismith besluit dat drie raadslede, Jeffrey Donson, Werner Meshoa en Hyrin Ruiters, geskors moet word. Die drie raadslede is almal van Icosa.

Die besluit is egter klaarblyklik onderhewig aan goedkeuring deur Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.

Bredell se woordvoerder, Wouter Kriel, het Maandag op navraag van Die Hoorn gesê dat die kantoor aandag skenk aan die navraag.

Vrydagoggend se raadsbesluit het gevolg op ’n verslag van die speaker, Rodge Albertus
(Kannaland Independent Party – KIP), waarin hy bevind het dat die drie raadslede die gedragskode van raadslede oortree het deur hul skuldig te maak aan die onwettige, vrugtelose en verkwistende be- steding van openbare fondse. Dit sluit beweerde reis- en verblyfbedrog in.

Volgens Albertus se verslag is die drie raadslede die geleentheid gebied om op sy bevindings te reageer, maar het hulle geweier.

Sekuriteitspersoneel het die oggend van vroeg af die stadsaal bewaak waar die raadsvergadering plaasgevind het.

• Die Kannaland-raad bestaan uit sewe raadslede wat vier partye verteenwoordig: Icosa (3), ANC (2) en een elk van KIP en die DA. (Deur Liesel le Roux)