Die saak teen elf verdagtes, waaronder personeellede van die Oudtshoorn Verkeersdepartement en die bestuurder en personeel van ‘n plaaslike bestuurskool, is vanmiddag in die Oudtshoorn Landdroshof tot môre (22 Februarie) uitgestel vir vier van die verdagtes om regsverteenwoordiging te kry.
Die klagtes teen die elf hou verband met die onwettige uitreiking van leerling- en bestuurslisensies.
Die verdagtes, Noloyizo Tose, Thabo Mgaba, Sandsile Johnson, Ingrid Wagenaar, Ivan Human, Warren Coetzee, Yolande Stalmeester, Phumezo Tshomiso, Samuel van Hansen, Promise Sovasi en Xolili Gaya is Vrydag in hegtenis geneem tydens ‘n operasie deur provinsiale speurders verbonde aan die SAPD se gespesialiseerde eenhede vir kuburmisdaad, handelsmisdaad en misdaadintelligensie asook die Wes-Kaapse Departement Vervoer.
Die inhegtenisneming het gevolg op ‘n geheime ondersoek oor ‘n tydperk en deel uitgemaak van Operasie Vura wat reeds in Julie 2021 geloods is. Die Polisie het ook beslag gelê op ‘n 14-ton Mercedes- vragmotor, ‘n motorvoertuig, selfone, rekenaartoerusting en ‘n onbekende bedrag geld.
Die verdagtes is tussen 34 en 61 jaar oud en staan tereg op aanklagte van die oortreding van die Padverkeerswet, bedrog, korrupsie en geldwassery.
Die staaatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die hof meegedeel dat die staat minstens sewe dae nodig het om ‘n borgaansoek aan te hoor en dat moontlik nog klagtes tot die klagstaat gevoeg kan word. Volgens haar is R1,6 miljoen by die saak betrokke
Die regsverteenwoordiger van twee van die verdagtes, Benito Metembo, het egter versoek dat die borgaansoek vroeëer aangehoor moet word.
Nadat die vier verdagtes sonder regsverteenwoordiging die hof meegedeel het dat hulle voor môre regsverteenwoordigers sal kry, is die saak deur landdros Jesus Williams uitgestel.
Ivan Human en Ingrid Wagenaar is om mediese redes op waarskuwing uit terwyl die nege ander verdagtes in aanhouding bly. (Deur Garnett Wicomb)