’N 14-JARIGE is Vrydag (29 April) by die Oudtshoorn Taxistaanplek deur lede van die Landelike Blitspatrollie en Eden Kluster Misdaadbestrydingspan in hegtenis geneem nadat 15 bankies Tik en sewe kwarte van Mandraxtablette in sy besit gevind is.
Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het dieselfde span daarna inligting opgevolg van dwelmaktiwiteit naby ’n skool op die dorp. Hier is op 90 bankies dagga beslag gelê met ’n 22-jarige verdagte wat vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.
Die Uniondale Misdaadvoorkomingspan het op dieselfde dag ’n 70-jarige verdagte in hegtenis geneem vir die verkoop van drank sonder ’n dranklisensie. Dit het gevolg nadat ’n perseel met ’n lasbrief deursoek is en op 252 liters drank beslag gelê is.
Volgens Spies sal die verdagtes Dinsdag in howe verskyn.