DIE 29-jarige vrou van Oudtshoorn wat haar kêrel met ’n stukkende bierbottel geslaan en van aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en in huisarres geplaas.
Andrea Jooste, die ma van drie kinders, het erken dat sy op 15 Februarie 2022 vir Diego Mei met ’n stukkende bottel geslaan het toe sy hom oor ontrouheid gekonfronteer en hy toe vir haar gelag het.
Sy sê in haar pleitverduideliking dat haar lewe nie in gevaar was nie en dat sy baie jammer is daaroor. Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê Jooste is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind wat algemeen in die hof se bedieningsgebied voorkom. Volgens haar is daar baie ander maniere om probleme op te los as om iemand met ’n skerp voorwerp te steek.
Die hof het vir vonnis in ag geneem dat sy skuldig gepleit het en Mei die saak wou terugtrek. Hy het haar ook vergewe en wil nie sien dat sy tronk toe gaan nie.
Jooste is tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig met huisarres vir die volle tydperk en verskeie voorwaardes.- Garnett Wicomb
Drie jaar huisarres vir ma ná huismoles
