Dorp gons nadat baba in straat gevind word

’N GESONDE babaseuntjie van sowat 10 dae oud is Vrydag (21 Januarie) deur ’n verbyganger op die sypaadjie van Dr Watsonstraat in die woongebied Nissenville in Ladismith gevind.

Die kantore van Kindersorg is in dié betrokke straat geleë.

Nadat die polisie verwittig is, is die baba na die plaaslike hospitaal geneem waar ’n dokter hom ondersoek het.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder vir die Suid-Kaap Polisie, is die baba volgens skatting sowat 10 dae oud en in ’n gesonde toestand.

Die seuntjie is aan die Departement Maatskaplike Dienste oorhandig vir plasing by pleegouers.

Pojie sê die polisie ondersoek ’n saak van kinderverlating en het die baba se 35-jarige ma in hegtenis geneem en weer op waarskuwing vrygelaat.

Sy sou gister in die Ladismith Landdroshof op ’n klag van kinderverlating verskyn het. (Deur Deon Meyer)