Berry se verhoor weer uitgestel

DIE verhoor van die bestuurder van die motor waarin ’n 18-jarige matrikulant van Oudtshoorn, Marilize Nortier, op 22 September 2019 gesterf het, is weens ’n tekort aan tolke tot 18 Februarie uitgestel. Die verhoor sou Vrydag (21 Januarie) in die Oudtshoorn Distrikshof begin het.

Sidney Berry (25) van Groot Brak-rivier staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, alternatief roeke-lose of nalatige bestuur, en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen.

Die motor waarin Nortier ’n passasier was, het die betrokke aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ’n watervoor beland.

Berry het na bewering die ongelukstoneel verlaat sonder om enige hulp aan Nortier te verleen en later weer teruggekeer.
Nortier was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is.

In ’n nadoodse ondersoek is bevind dat sy verdrink het.

Die saak is Vrydag deur landdros Vaughen Shone uitgestel. Jacoleen Jordaan is die aanklaer terwyl Bulelani Bans namens Berry optree.

Berry is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)