Belangrike inligting vir feesgangers

Dokumente nodig vir KKNK-toegang
VIR toegang tot die KKNK-Feesmark en lokale moet jy ’n inentingsertifikaat of inentingskaart bring; OF ’n negatiewe PKR- of sneltoetsbewyse; OF ’n bewys dat jy die afgelope drie maande Covid-positief getoets het – dus EEN VAN DIE DRIE is voldoende.

Ook noodsaaklik is jou groen strepieskode-identiteitsdokument of -kaart, OF paspoort OF geboortesertifikaat. Saam met jou kaartjie, sal hierdie dokumentasie jou toegang gee.

Om tyd en moeite by die deure en hekke te spaar kan feesgangers by die Absa Burgersentrum of die ingang van die Feesmark of by die Webtickets-kaartjiekantoor (hoek van Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat) eenmalig registreer en ’n toegangsbandjie vir die week daar kry.

Toetsstasie vir diegene wat nie ingeënt is nie
Daar is ’n toetsstasie by die biblioteeksaal in Voortrekkerweg vir diegene wat nie ingeënt is nie en ’n antigeen-blitstoets wil laat doen as bewys dat hulle nie Covid-positief is nie en so toegang kan verkry tot die Feesmark en KKNK-lokale.

Die toets kos R150 en sal deur geregistreerde mediese personeel van ’n onafhanklike kontrakteur, Alert Patrol, behartig word. Die toetsstasie is vandag van 14:00 tot 16:00 oop, en van Dinsdag tot Saterdag elke dag van 09:00 tot 16:00.

Die KKNK beveel aan dat diegene wat nie ingeënt is nie en die KKNK met ’n negatiewe Covid-19-toets wil bywoon, reeds voor die fees hul toetse afhandel om lang rye te vermy.

Feesmark is kontantloos
Die Feesmark word vanjaar kontantloos aangebied met ’n stelsel wat deur Absa, in vennootskap met Howler, bestuur word. Feesgangers kan geld vanaf ’n debiet- of kredietkaart op ’n gratis Absa-feeskaart laai by optop-stasies. Die oorblywende balans op feeskaarte sal gratis by hierdie stasies op die feesterrein, of via die Howler-webwerf, uitbetaal word.

Spesifiek by kroeë in die Feesmark sal slegs die Absa/Howler-feeskaart as betalingsmiddel gebruik kan word. ELDERS in die Feesmark sal feesgangers as alternatief egter ook hul debiet- en kredietkaarte vir betaling kan gebruik.

’n KKNK-app vir vinnige inligting
Feesinligting is beskikbaar op ’n nuwe web-app bekend. Laai dit af op jou selfoon by https://kknk2022.kknk.co.za