KANNALAND se twee ANC-raadslede, Nicky Valentyn en Leonie Stuurman, se lidmaatskap van die ANC is deur die Wes-Kaapse Interim Provinsiale Komitee (PIC) tydelik opgeskort, enkele dae nadat hulle verlede Woensdag (19 Januarie) by ’n raadsvergadering tot Kannaland se nuwe burgemeester en onderburgemeester verkies is.
Albei raadslede het briewe van die party ontvang om hulle in te lig dat hul lidmaatskap opgeskort is, omdat ’n besluit van die Provinsiale en Nasionale Komitees om nie in koalisie met die Demokratiese Alliansie te gaan nie, geïgnoreer is.
Die twee raadslede van die ANC, een van die Kannaland Independent Party (KIP) en die een van die DA het verlede Woensdag mosies van wantroue ondersteun in drie Icosa-raadslede: die voormalige burgemeester, Jeffrey Donson, onderburgemeester, Werner Meshoa, en die raad se verteenwoordiger by die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, Hyrin Ruiters.
Valentyn het in ’n verklaring gesê dat hy as lojale en toegewyde ANC-lid hom onderwerp aan die party se interne tugproses en nie die media verder oor die aangeleentheid sal te woord staan nie.
Die Hoorn verstaan dat die ANC se Wes-Kaapse woordvoerder van die PIC, Sifiso Mtsweni, Kannaland gaan besoek om die redes van die ANC-raadslede se besluit te kom aanhoor.
Leonie Stuurman kon nie by haar woning of die munisipale kantoor vir kommentaar bereik word nie. (Deur Deon Meyer)
ANC skors sy eie burgemeester en -onderburgemeester
