‘N 35-JARIGE man verskyn vandag in die Oudtshoorn Landdroshof op ‘n aanklag van moord nadat die lyk van Eric Xaxaka (60) van Bongolethu Vrydagaand laat in ‘n vlak graf agter sy woning in Xolastraat gevind is. Die man, ’n vriend van die oorledene se dogter, het reeds Vrydagaand laat ‘n bekentenis afgelê.
Die polisie het Donderdag inwoners van Oudtshoorn gevra vir inligting oor Xaxaka nadat hy glo Woensdagoggend werk toe is en nie daar opgedaag het nie.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie die woning Vrydag besoek in ‘n poging om Xaxaka op te spoor. Verskeie forensiese deskundiges en die K9-eenheid (honde-eenheid) was op die toneel om te help met die soektog.
Die 35-jarige verdagte, ‘n vriend van die oorledene se dogter, is in hegtenis geneem, waarna hy laat die aan ‘n bekentenis afgelê het.
Visser sê ‘n lykskouing vanoggend het aangedui dat Xaxaka oorlede is as gevolg van verskeie steekwonde met ‘n skerp voorwerp. (Deur Liesel le Roux)