Dis tyd dat ons ons deel doen
Ek lees met verstomming almal se kommentaar op Facebook en ook almal se briewe in ons koerante. Almal kla net die meeste van die tyd, maar hulle kom nie met oplossings vorendag nie.
Vyf en twintig jaar gelede kom ek as “sogenaamde inkommer” in Oudtshoorn aan vanuit Pretoria. Infanterieskool. Ons kom doen JL’s. Mettertyd vestig ek my in Oudtshoorn.
Oor die jare begin ek sien hoe Oudtshoorn groei. Die PicknPay Mall word gebou. Die KKNK sit Oudtshoorn op die map.
Die Britse valskermspringers kom na Oudtshoorn om te oefen. Ons kry ’n vliegskool. Die ekonomie en die dorp baat by dit.
Besighede met ’n lang geskiedenis in Oudtshoorn sluit hul deure.
Meer en meer mense vestig hulle in Oudtshoorn. Maar ons staan stil wat vooruitgang betref.
Daar is sprake van ’n mall. Dit sterf ’n stille dood. Die landbouskou gaan tot niet. Die politiek maak Oudtshoorn dood. Ons dorp gaan ten gronde. Ons paaie is verby swak. Ons begraafplaas is chaoties. En misdaad begin sy kop uitsteek. Ons dorp lei onder dit. Die ekonomie druk.
Ons kry ’n nuwe Spar by.
Ons mense in Oudtshoorn is verdeeld. Van ons mense moan oor die vliegskool, oor die parabats, oor die weermag, sommer net oor alles.
Kan of kon ons dit bekostig? Nee, ons kan of kon nie. Nou wat nou, wat is ons pad vorentoe?
Ons munisipaliteit probeer regtig en ons is hoopvol dinge gaan regswaai. (Rome is nie in een dag gebou nie).
En wat doen ek behalwe dat ek sit en moan en groan. NIKS!
Kom, Oudtshoorn, elke inwoner het ’n verantwoordelikheid. Kom ons almal begin net by ons eie huise. Kom ons maak ons dorp weer mooi.
Kom ons strooi nie rommel nie.
Kom ons help mekaar. Kom ons is vanselfsprekend Oudtshoorn.
Daar moet êrens oplossings wees vir die straatkinders ook. Maar ons sogenoemde gesiene inwoners sit agteroor en seg nie veel nie. Of moan oor onnodige goed.
Dis tyd dat ons Oudtshoorniete Oudtshoorn terugvat en ons deel doen.
Ek glo ons kan êrens verskille maak in ons dorp; al is dit ook al hoe klein.
Groetnis.
– Oudtshoorniet
Nie ‘dwase’ en ‘terroriste’ nie
Mnr Nico Ungerer, jy het gelyk. Jy verstaan dalk nie wat hier aangaan ten opsigte van die lughawe en Aifa nie. Die inwoners wat jy in jou brief beskryf as “dwase wat sulke besighede kniehalter en terroriseer” is opgevoegde, goed gekwalifiseerde en geleerde mense wat jy nie ken nie!
Jy vra of ons besef dat dit eintlik ekonomiese terrorisme is. Ek is nie ’n terroris nie en elke brief wat ek ooit oor onder meer die lughawe geskryf het, se detail kan ek bewys en is nie uit my duim gesuig nie – ek het immers behoorlike navorsing gedoen.
Mnr Ungerer, as jy werklik die feite oor die lughawe wil verstaan, skryf aan my (e-posadres beskikbaar by Die Hoorn) en dan sal jy ontnugter word oor wat aangaan!
Bennie se sms (“Sal mense wat so kla oor die vliegtuie asseblief die dorp verlaat!”) bied ook geen oplossing vir ’n komplekse probleem waarvoor belastingbetalers betaal nie.
– Charles Meyer, Oudtshoorn
(Brief geredigeer)
In die belang van ons dorp
Nou ja, ek weet nou nie of die klip wat ek in die morsjors-bos gegooi het, raak was nie, maar ’n “hond” het gereageer met ’n tjank dat ek eers voor my eie deur moet vee! Is dit nou figuurlik of letterlik bedoel?
Laat ek maar vir jou sê; Ek betaal werkers uit die straat met volle etes en volle dagloon om my straat skoon te maak en te hou, en ek betaal vullisverwydering aan ’n privaatpersoon om my tuinvullis weg te ry op ’n weeklikse basis! Jy kan sewe dae van die week om en voor my huis kom kyk, as jy weet waar ek bly.
Net gister het ek R160 vir ’n arbeider betaal om die hele straat tot by mnr Colyn se huis skoon te maak, en die vullis in swartsakke te stop.
Ek het ’n hekel aan morsjorse en vullis op enige plek. Dis ’n gruwel in my oog. So wees verseker dat ek jou adres aan die munisipaliteit sal voorlê met foto’s om dit te staaf.
Ek en ’n vriend stap wyd deur die dorp en ek kan jou verseker, dis skokkend om te sien hoe vuil mense se erwe is en hoe dit om en voor hul huise lyk. Selfs die sogenaamde “groot honde’’ van ons dorp. Ek kan nie glo dat ons mense se waardes so ver agteruit gegaan het nie.
Laat ek iets verder aan jou meedeel. Ek het in 1973 my eerste huis gekoop en moes ’n rybaan bou. Die bousand was skaars 24 uur op die sypaadjie of die bouinspekteur was op my drumpel met ’n opdrag om dit te verwyder en binne my erf te gooi! Dit was bousand, nie rommel nie! Ek is meer as 70 jaar ’n inwoner van Oudtshoorn, nooit het die munisipaliteit nodig gehad om my te vra om my rekenings vir dienste te betaal of ooit weer om boumateriaal op my sypaadjie te verwyder nie.
By my besigheid het ek vir meer as 40 jaar self my rommel weggery omdat die munisipale mense meer gemors as skoongemaak het met verwydering van die vullis.
Laat ek jou sommer reghelp – ek het geen obsessies nie, my ouers het my net behoorlik opgevoed ten opsigte van netheid. Ek het ook my kinders dieselfde maniere geleer.
So, Meneer of Mevrou, voor my deur is dit skitterskoon, agter my deure ook! Ek werk in belang van ons dorp. As dit jou pla, moet jy maar jou oë toemaak.
Jy sal merk dat ek ook nie skaam is vir my naam nie! Miskien is jy. Groete
– Nico Ungerer, Oudtshoorn