Briewe / letters

Geregtig op beter diens

Na aanleiding van AJ Wagener en Bart Vosloo se briewe aan Die Hoorn van 18 Mei, die volgende:
Ek het slegte nuus vir die menere. Die nuutverkose DA-raad het skynbaar ’n beleid aanvaar van “kom ons swyg hulle dood”.

My navraag deur Die Hoorn in verband met die groot aantal huise wat beplan word, en die versoek dat ’n kaart gepubliseer word sodat almal kan sien wat beplan word, is ook met dawerende stilte begroet.
Dit strek nie ons dorp ter ere dat daar in nasionale media (Die Burger) deur toeriste gekla word oor die toestand langs die De Rust pad nie.

Ons, die kiesers wat die DA aan bewind geplaas het, verwag en is geregtig op beter diens as dit wat ons nou kry, al is dit dan ook net om navrae te beantwoord. Dit kos immers nie baie geld nie.
– D Haasbroek, Oudtshoorn

Baie dankie, Oudtshoorn Hospitaal

Dit is jammer dat ’n persoon verlede week ’n negatiewe ondervinding by die uitstekende lokale hospitaal ondervind het volgens sy skrywe. Dit kan wel by uitsondering gebeur, veral by die ongevalle-afdeling.
Mishandeldes, erg beseerdes en ook erg siek persone word uurliks daarheen gebring, meestal vergesel van familie-lede en selfs soms kinders wat erge trauma ondervind het en dan in die wagkamer sit en wag vir ’n goeie of slegte tyding.

Daar word eetgoed gekoop op die perseel of saamgebring terwyl mense wag. Papiere en houers, selfs snesies, beland dan op ’n pas skoongemaakte vloer en dit teen alle hospitaalreëls. Ekstra kennisgewing is nou aangebring en sal streng toegepas word. Skoonmakers doen al om die uur daar observasie ten spyte van al hulle ander pligte.

Hierdie hospitaal is een van die bestes in die land, indien nie dié plattelandse blinkskoon-eenheid nie. Kyk en vergelyk ander sale en gange – ook kantore se blinkskoon vloere, mure, vens­ters en deure.
Van die honderde besoekers en pasiënte hier is daar beswaarlik seker twee per maand wat direk aan skoonmakers dankie sê – dit is seker maar ’n ondankbare werk wat hulle met al hulle ywer doen.
Namens baie Oudtshoorniete sê ons baie, baie dankie aan die bestuur, verpleërs en skoonmakers – almal.
– Sarel de Kock, Oudtshoorn