Songs of Paradise om radiostasie se 10de te vier!

Regs: Die Local Vocals van De Rust wat opgetree het by die onlangse Songs of Paradise.  Foto: Garnett Wicomb

Die Local Vocals van De Rust wat opgetree het by die onlangse Songs of Paradise. Foto: Garnett Wicomb

Dankseggingsdienste kom oral

Deur Garnett Wicomb
Die tweede Songs of Paradise van die gemeenskapsradiostasie EdenFM wat einde Maart in die saal van die Bridgton Senior Sekondêre Skool aangebied is, was weer ’n groot sukses en baie geseënd.
So sê die hooforganiseerder, past John Plaatjies.

Die hoogtepunt van die middag was die optrede van die gewilde Gospel Messengers van Uitenhage.
Plaaslike kore en individuele kunstenaars wat vir pragtige sang gesorg het, was die Choraleers, die Local Vocals van De Rust, die Wessels-fa­miliekoor, die Fillipynse massakoor, Lizelle van Hansen en Gariska Booysen.

Die tweede Songs of Paradise was volgens Plaatjies deel van EdenFM se tiende viering van ’n permanente uitsaailisensie.

Volgens die stasiebestuurder, Morné Pietersen, is dit ’n mylpaal waarop almal by die radio, die luisteraars en almal wat voorheen by die radio ­betrokke was, baie trots op kan wees.
“Dit was nie maklik om ’n permanente lisensie te bekom nie,” het Pietersen gesê.
“Ons het sestien keer aansoek gedoen en dit het elke keer duisende rande gekos wat ons wonderbaarlik in die hande gekry het.”

Hy het sy dank teenoor luisteraars uitgespreek wat die jaarlikse telethon van die radio so wonderlik ondersteun.

Volgens Pietersen sal dankseggingsdienste gedurende die jaar in al die dorpe in die radio se opvangsgebied gehou word.