Wrede dieremishandeling toename kommerwekkend

Foto's bo van links: Die merrie-perd se privaatdele is met ’n mes geskend deur ’n minderjarige kind. Foto verskaf Foto middel bo: Hierdie hond se nek en bors is aan vlarde geskeur deur ’n ander hond na ’n bakleiery. Foto verskaf Foto regs bo: Die hond het sy linkeroog verloor nadat dit tydens ’n geveg uit sy oogbank geruk is Foto verskaf

Na aanleiding van Die Hoorn se berig in 2 November 2023 se uitgawe oor “Honde wat aanval algemeen”, het verskeie persone en organisasies die koerant gekontak om die omvang van hierdie probleem aan die koerant te meld.

Dit blyk uit die gesprekke dat die probleem nie net tot aanvalle deur honde beperk is nie, maar dat daar ’n groot toename in dieremishandeling, deur volwassenes en kinders is.

In ’n onlangse skokkende geval is ’n merrie perd buite Oudtshoorn deur ’n minderjarige kind geskend.

Die perd se privaatdele is met ’n mes stukkend gesny en moes deur ’n veearts vasgewerk word.

Elmarie Swiegers van Animal Care Team en Koördineerder van CCS (Compulsary Community Services), was op een dag saam met Magda Davel, skutmeester van die Oudtshoorn skut op 14 klagtes uit, wat gehandel het van bytmerke, honde wat met messe gesteek was en selfs vergiftiging van diere.

Diere wat een of beide oë verloor is ook aan die orde van die dag.

Die situasies en gruweldade waarmee dierewelsynsorganisasies, en die Oudtshoorn skut daagliks in kontak kom, is genoeg om enige persoon nagmerries te gee.

Die Hoorn is in besit van meer as 30 foto’s waar diere diep messteek wonde het, deur ander honde letterlik uitmekaar geskeur is dat net velle hang, diere met ledemate wat afgeskeur is en diere wat met kookolie of kookwater gegooi word en so meer.

Een persoon wat anoniem wil bly het aan Die Hoorn vertel dat sy verlede week drie klein baba- katjies by jong seuns langs die pad afgevat het. Toe sy hulle vra wat hul plan was met die diere het een aan haar vertel dat hulle die katjies in stukke sou opsny.

“Ons probeer al die diere help by die CCS kliniek, maar soms is die skade so groot dat die dier op die operasietafel doodgaan, of ons die hartseer besluit moet maak om die dier eerder uit te sit omdat die leiding te groot is,” sê Swiegers hartseer.

Asof dieremishandeling nie erg genoeg is nie, is die aantal diere wat ondervoed is en soms doodgaan van honger net so baie.

By The Cat Hotel, wat deur Lee-Ann van Sittert behartig word, word soveel katte net doodeenvoudig afgelaai.

Van klein katjies wat nog toe oë daar aankom en eintlik deur hul ma versorg moet word, tot volwasse katte wat sommer net summier weggegooi word en op die drumpel van haar deur gelos word.

Volgens Ansa de Jager van die Oudtshoorn Diereherberg sien hulle veral dat mense swaarkry en in groot armoede leef. Daar is ’n groot tekort aan kos vir hierdie persone. Wanneer daar nie deur enige van die organisasies kos gegee word nie, sit die honde vir dae lank sonder kos.

Daar word ook nie opgehou met teel nie “Ons het tans meer as 40 babahondjies, en daar is ’n groot behoefte aan ’n massa sterilisasies, maar hiervoor gaan ons fondse benodig,” sê De Jager.

Intussen probeer die verskeie dierewelsynorganisasies hul beste doen om te verseker dat soveel moontlik diere gehelp en versorg word deur mediese hulp te verskaf en kos aan die gemeenskap uit te deel om so die nood te probeer verlig.

Met die feesseisoen wat voorlê lyk die toekoms nie veel beter wat mishandeling en die wanvoeding van diere betref nie.

In ’n dorp waar soveel inwoners reeds swaarkry en onder die broodlyn leef, is dit ongelukkig die diere wat die swaarste kry en daaronder lei.

Dalk kan jy betrokke raak by enige van die vier organisasies in die dorp en in plaas van daardie duur kersgeskenke eerder aan die een van jou keuse ’n donasie maak.

Dit bring nie net verlig-ting aan die vrywilligers wat soms slapelose nagte het oor waar die volgende maaltyd vir die diere vandaan kom nie, maar neem groot druk van hul skouers af.

So kan een klein gebaar, die lewe van soveel viervoetige vriende verander en verbeter.

Ondersteun ook enige fondsinsamelinginisiatiewe wat hul op die been bring om geld in te samel, hou gerus hul sosiale mediabladsye dop waarop inligting gereeld verskyn.

Oudtshoorn Diereherberg: Ansa de Jager 072 070 5977, Oudtshoorn Dogs In Need: Colleen Smith 072 084 1374, Animal Care Team: Vanessa Engelbrecht 082 927 7276, The Cat Hotel: Lee-Ann van Sittert 083 334 0172.

Hoe gemaak as jy hulp vir jou dier kort?
Skakel die beheerkamer by 044 203 3000 en vra die skakelbord om jou deur te skakel na Magda Davel, Oudtshoorn se skutmeester. Davel sal dan die adres kry.

Sou daar nie ’n voertuig beskikbaar wees nie sal Davel met een van die diere-organisasies op die dorp skakel en uitstuur na die adres.

Die dier word dan na die CCS Kliniek geneem waar die dier behandeling en medikasie sal ontvang teen ’n goedkoper tarief, of selfs gratis sou die eienaar nie die dienste kan bekostig nie.

Alternatiewelik kan Swiegers by die CCS Kliniek op 082 498 0177 gekontak word.