Weerwaarskuwings het al vanaf verlede week swaar neerslae en wind vir die Klein Karoo en ander dele van die Wes-Kaap voorspel.
Inwoners in en om Oudtshoorn het tot Woensdag reënval van tussen 80 mm tot 100 mm gemeet.
Daar is 130 mm in Matjiesrivier gemeet en sowat 100mm is in die omgewing van De Zeekoe gemeet.
Die Outeniquapas, sowel as Mei-ringspoort was ook vir ’n wyle Dinsdag gesluit met motors wat vir ure gewag het totdat die passe weer oopgestel is.
Rotsstortings is ook op die Kango Grotte-pad aangemeld
Die Swartbergpas was teen druktyd steeds gesluit.
Alle laagwaterbruggies in Oudtshoorn het Dinsdag sterk oorgeloop, selfs Noordstraat in Wesbank wat ’n hoër brug is.
Die enigste brug wat gekruis kon word was Voortrekkerweg en die lang rye motors het herinner aan spitsverkeer in groot stede.
Heinings by verskeie laagwaterbrûe is ook deur die massas water beskadig en gebuig.
Die laagwaterbrug net na die skut op die Rooiheuwelpad, was toe vir verkeer, en die brug net na die afdraai na Oudtshoorn se proefplaas het ook oorstroom.
’n Inwoner wat naby die proefplaas woon het aan Die Hoorn gesê dat hul Dinsdag Dysselsdorp langs moes ry om by die huis te kom, nadat die Olifantsrivier sterk afgekom het na al die reën.
Naby De Rust, sowat 20 km op die R341 was die rivierloop van die Olifantsrivier kurkdroog, maar was teen Dinsdag in volle vloed. Die water loop in die Stompdriftdam, en vandaar af weer in Oudtshoorn se rigting.
Verledeweek was die Stompdriftdam sowat 25,3% vol, en die Kammanassiedam 71,5% vol. Woensdagoggend het die vlakke onderskeidelik op 38,44% en 90% gestaan, met water wat steeds sterk invloei.
Die Raubenheimer-dam het vanaf 68,38% na 80,12% gestyg.
Die wonderlike reën het natuurlik ook nadelige gevolge gehad met verskeie bome wat in die slag gebly het en heinings wat beskadig is.
Ten spyte hiervan, is dit altyd wonderlik wanneer dit reën in die Klein Karoo, en is mens, dier en plant dankbaar vir elke druppel. (Deur Angelique Erasmus)
Reën, wonderlike reën in die Klein Karoo – lesers deel hul foto’s
Calitzdorpdam, Dinsdag – videogreep Christo Spies
Foto geneem vanaf Olifantsrivierbrug. Foto: Jean Erasmus
Rooiheuwel, buite Oudtshoorn. Foto: Nicky Fölscher