Marilize Nortier: Plaasbestuurder beskryf ongelukstoneel

Bo: Die motor wat deur Sidney Berry bestuur is en op sy dak in ’n watersloot beland het. Op die foto bo is die motor reeds regop getrek.

DIE motor het op sy dak in die sloot gelê met twee wit skoene wat net bo die water deur die voorruit uitgesteek het. Die water was vol slyk en sowat ’n halwe meter diep. Die oorledene se hele liggaam was onder die water.

Dit was deel van die getuienis van ’n plaasbestuur­der, Japie Potgieter, in die Oudtshoorn Streekhof waar die verhoor van Sidney Berry (27) van Groot Brakrivier verlede Woensdag en Donderdag (20 en 21 Julie) voortgesit is. Berry was die bestuurder van die motor waarin die jong Oudts­hoorniet Marilize Nortier (18) die aand van 22 Sep­tember 2019 in ’n sloot met water langs die Kan­go Grottepad gesterf het. Hy staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en versuim om hulp op ’n ongelukstoneel te verleen. Hy ontken skuld.

Potgieter het voorts getuig dat dit nie vir een persoon moontlik sou gewees het om die motor op sy wiele te kry nie, maar dat hulp aan die persoon in die motor verleen kon word deur haar veilig-heidsgordel los te maak.

Op ’n stelling van Bulelani Bans, Berry se regsverteenwoordiger, dat sy getuienis verskil van sy verklaring aan die Polisie het Potgieter gesê hy het aan die Polisie gesê wat hy gesien het en dat dit miskien nie in die fynste besonderhede was nie.

Volgens Bans het Potgieter nie in die verklaring melding gemaak van twee wit skoene wat hy sien uitsteek het nie. Bans het dit ook aan Potgieter ge­stel dat sy getuienis onder kruisverhoor dat die be­skul­digde deurmekaar was, verskil van vorige ge­tuienis dat die beskuldigde “op en af geloop en senuweeagtig was”.

Die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, het getuig dat sy met haar aankoms op die toneel gesien het hoedat Potgieter die motor met sy Land Cruiser in die sloot op sy wiele getrek het, en sers Heine Jullies haar meegedeel het dat die beskul­digde met sy toestemming deur sy ma na ’n dok­ter geneem is.

Volgens haar het Jullies gesê dat Berry na drank geruik het, maar het die dokter wat hom ondersoek het, gesê hy kan nie onthou of hy na drank geruik het nie.

Bans het egter hierop dit aan Burger gestel dat die man wat Berry die nag langs die pad opgelaai en na sy huis geneem het om te stort, Leon Botha, getuig het dat Berry so na drank geruik het dat hy sy motor se vensters moes afdraai.

Jullies wat die Sondagoggend die eerste poli­sie­beampte op die ongelukstoneel was, het Donderdag getuig dat hy die oggend net ná agtuur op die on­gelukstoneel aangekom en ’n wit BMW skuins op sy dak met sy neus in ’n noordelike rigting in die sloot aangetref het. Botha het kort daarna met Berry na die toneel teruggekeer.

Berry het homself voorgestel en gesê dat hy die bestuurder van die motor was en dat hy nie alleen in die motor was nie.

Nadat Berry na die motor in die sloot gaan kyk het, wou hy van Jullies weet wie die persoon in die motor is en of die persoon dood is. Volgens Jullies het Berry “soos iemand wat ’n spook gesien het” gelyk. “Hy het na iemand geruik wat die vorige aand gedrink het, maar was nie onvas op sy voete en het nie sleeptong gepraat nie.”

Jullies het getuig dat die water in die sloot sowat 30 cm diep was, terwyl Potgieter dit op ’n halwe meter geskat het.

’n Ondersoek ter plaat­se het Donderdag op die ongelukstoneel plaasgeving. Landdros Vaughn Shone het die verhoor tot 17 Augustus uitgestel wanneer Jullies se kruisondervraging sal plaasvind.

Die aanklaer in die saak is Jacolize Jordaan. (Deur Garnett Wicomb)