Weermagkaptein ook vas

Sakhele Themba­lekhaya Nkabi (36), ’n weermagkap­tein, is een van die verdagtes aan wie borgtig geweier is. Foto verskaf

’N KAPTEIN by die Infanterieskool op Oudtshoorn, Sakhele Thembalekhaya Nkabi (36), is Vrydag in ’n gesamentlike operasie van die Valke se nasionale priori­teitspan vir geweldsmisdade en die Attaqua K9-eenheid op Oudtshoorn in hegtenis geneem in verband met ’n transitorooftog verlede Maandag (19 Julie) by ’n vulstasie in Bridgton, Oudtshoorn.

Nkabi is die vierde verdagte wat in hegtenis geneem word in verband met die voorval. Hy het Maandag in die hof op Oudtshoorn verskyn, terwyl drie ander mans, Lwandiso Lento (36), Masixole Dolomba (27) en Simphiwe Matwa (41), reeds verlede Woensdag (21 Julie) in die hof verskyn het. Al vier het voorgekom op aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Die drie mans wat kort na die rooftog in hegtenis geneem is, is almal van Thembalethu in George.

Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, is Nkabi vasgetrek nadat ’n tweede voertuig wat in die rooftog gebruik is,

’n wit Toyota Tazz, in ’n motorhuis naby die Infanterieskool op Oudtshoorn gevind is.

Die Hoorn het verlede week berig dat ooggetuies twee motors oorkant die pad gesien het van die Atlantic Oil-vulstasie waar die roof was – die silwer Nissan Sentra wat op die Outeniquapas voorgekeer is, maar ook ’n wit Toyota Tazz.

Hani sê die Valke het met die inhegtenisname van die eerste drie ver­dagtes ’n SANW-uniform in die Nissan Sentra waarmee hulle gery het, gevind. ’n Medalje vir lojale diens met die naam en rang van die SANW-lid was aan die baadjie vasgesteek.

Die Valke se ondersoek het getoon dat die SANW-lid met die Toyota Tazz met vals nommerplate van die misdaadtoneel weggery het. Iewers langs die pad het dit langs die silwerblou Nissan Sentra stilgehou het en is die gesteelde goedere in die Sentra oorgelaai.

Ook in die Nissan is die gesteelde vuur­wapen van die sekuriteitswag, ’n tweede vuurwapen waarvan die reeks-nommer afgeveil was en ’n verseelde geldsak met die gesteelde geld daarin gevind.

Die saak teen Dolomba is tot 28 Julie uitgestel vir die aan­stel van ’n regsver­teen­woordiger, terwyl Mat­wa, Lento en Nkabi op 3 Augustus moet verskyn vir borgaansoeke. Almal bly in aanhouding. (Liesel le Roux en Stefan Skapie Goosen)