Waterbeperkings ingestel

Die Raubenheimerdam, buite Oudtshoorn, voorsien die dorp van drinkwater. Die damvlak staan tans op 83,47%. Oudtshoorn het in die afgelope week 20,5 miljoen liter water per dag gebruik. Die Oudtshoorn Munisipaliteit het Vlak 1 waterbeperkings vir Oudtshoorn hierdie week ingestel. Foto: Oudtshoorn Munisipaliteit

Waterbeperkings is Vrydag 2 Februarie 2024, deur die Oudtshoorn Munisipaliteit ingestel.
Vlak 1 is vir Oudtshoorn ingestel, terwyl Dysselsdorp en De Rust Vlak 6 beperkings het.

Alhoewel die Raubenheimerdam, waarvan Oudtshoorn sy water verkry, tans op 83,47% staan, het die dam se vlak die laaste week met 2,15% gedaal. Daar was ook geen reën die afgelope week nie.

Volgens ’n mediaverklaring wat vanaf die Oudtshoorn Munisipaliteit ontvang is, is daar tydens ’n vergadering op 31 Januarie, deur Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson, aan die raad kommer uitgespreek oor die buitengewone hitte wat die Klein Karoo beleef het, en wat daartoe gelei het dat waterverbruik ook toegeneem het.

“Amper 3% van die dam se kapasiteit is in een week gebruik,” het hy gesê.

Daarom is die besluit geneem tydens die vergadering om Vlak 1 waterbeperkings vanaf 2 Februarie met onmiddellike effek in te stel.

Oudtshoorn gebruik tans sowat 20,5 megaliter water per dag, dit is 20,5 miljoen liter water daagliks.

Afgesien van die buitengewone temperature wat die area die afgelope weke getref het, moet faktore soos verdamping ook in ag geneem word. Wanneer daar buitengewone hitte en winderige toestande heers, verdamp water vinniger, wat ook bydra tot laer damvlakke.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit sal noodwatertariewe slegs intree wanneer die dam se vlak onder 50% daal.

“Die implementering van Vlak 1 is om volhoubare watervoorsiening vir die gemeenskap te verseker,” sê sy. ’n Munisipale kennisgewing oor Vlak 1 en 6 waterbeperkings verskyn op bl 6.

Die Hoorn het by Charl van der Merwe, operasionele bestuurder van die Stompdrift Kammanassie Waterverbruikersvereniging (SKWV) gaan aanklop oor hoe verdamping damme soos die Kammanassie- en Stompdriftdam affekteer.

Die watervlakke van die damme staan tans op die volgende, Kammanassiedam staan tans op 74,6 % en Stompdriftdam op 28,3 %.

Volgens Van der Merwe het die Kammanassiedam sowat 18 843 000 liter per dag vir Desember 2023 verloor. Dit is ’n totaal 1,66 % per maand water wat die dam verloor. Stompdriftdam het 17 629 000 liter per dag verloor wat sowat 1,16 % per maand is as gevolg van verdamping.

“Ons monitor hierdie syfers elke dag, en alhoewel die getalle hoog is, is dit ook belangrik om in gedagte te hou dat verskeie weerstoestande die verdamping affekteer. Sommige dae kan meer en ander dae minder wees,” verduidelik hy.

Verkskeie inwoners het ook gevra oor die Blossoms-projek wat water aan Oudtshoorn moet voorsien. Oudtshoorn ontvang tans geen water vanaf Blossoms nie.

Die kragtoevoer is onlangs deur Eskom afgehandel. ’n Volledige verklaring sal eersdaags deur die munisipaliteit uitgereik word.

Blossoms se water word uit ’n boorgat gepomp na ’n reservior by die boorgate. Van daar word die water teen sowat 48 liter per sekonde gepomp na die hoofreservoir sowat 2,5 km verder op die plaas Chandelier, buite Oudtshoorn.

Vanaf Chandelier word gravistasie gebruik om die water 17 km verder tot by die Olifantsrivier te kry.

Daar word dit verdeel tussen die Landelike Waterskema, en die Reservoir aan die ooste-kant van Oudtshoorn naby die tronk.

Die projek het nagenoeg R100 miljoen gekos en sal Oudtshoorn kan voorsien van 4,15 megaliter water (4 miljoen liter) per dag.

Oudtshoorn het die laaste week 20,5 megaliter water per dag verbruik. Blossoms kan slegs ’n vyfde van ons huidige verbruik voorsien.

In 2020 het Die Hoorn berig dat die Blossoms projek ontwikkel word as ’n noodpyplyn om te help in tye van droogte.

Chris Swart, senior bestuurder van water en riool het destyds aan Die Hoorn gesê dat die boorgatvelde die potensiaal het om sowat 22 megaliter per dag te lewer en vorm saam met die moontlike bou van nog ’n dam deel van langtermynbeplanning om water volhoubaar aan die Groter Oudtshoorn te voorsien.