‘Wanneer jy ’n haai vang, is dit nie goed genoeg as hy vir jou sê dat hy nie visse sal byt nie’

Drie van die vermeende transitorowers tydens hul ingehegtenisname. Foto verskaf

DIE vier mans van George wat aangehou word vir die transitoroof op 19 Julie ’n vulstasie op Oudtshoorn sal Maandag hoor of hulle op borgtog vrygelaat gaan word. Een van hulle is ’n weermagkaptein by die Infanterieskool op Oudtshoorn.

Die verdagtes se borgaansoek is Woensdag (18 Augustus) in die Oudtshoorn Landdroshof deur landdros Marvin de Vos uitgestel. Hy het gesê hy het tyd nodig om die feite voor die hof te bestudeer en ’n regverdige uitspraak te kan lewer.

Die staat staan borgtog vir Simphiwe Matwa (41), Lwandiso Lento (36), Masixole Dolomba (27) en die weermagkaptein, Sakhele Nkabi (36), teen omdat hulle moontlik kan vlug, staatsgetuies, intimideer en hofverrigtinge onnodig vertraag. “Wanneer jy ’n haai vang, is dit nie goed genoeg as hy vir jou sê dat hy nie visse sal byt nie.” het die staatsaanklaer, adv MP Heyns, Woensdag gesê. Volgens Heyns staan die staat borgtog teen omdat ’n baie sterk saak teen die vier beskuldigdes het. Hy sê daar is geen twyfel dat Matwa, Dolomba en Lento die rooftog uitgevoer en Nkabi die voertuig verskaf het om van die toneel weg te kom nie.

Die vier mans staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van ’n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.

Adv Zukile Mqulo, regsverteenwoordiger van Matwa, Dolomba en Nkabi, en Bulelani Bans, regsverteenwoordiger van Lento, het die hof gevra om borgtog toe te staan omdat die verdagtes volgens hule nie sal weghardloop of staatsgetuies probeer beïnvloed nie. Hulle sal ook nie bewyse vernietig nie, en hul borgvoorwaardes nakom.

Volgens Bans is aantygings teen Lento bloot spekulasie. Hy sê Lento is ’n gevestigde sakeman met ten minste twee besighede. Hy beskik oor ’n permanente adres en sal daarom nie vlug nie. Hy het die hof gevra om die verklaring vvan Lento te aanvaar.

Mqulo het in sy slotargumente gesê die hof moet in ag neem dat dit ’n borgaansoek en nie ’n verhoor is nie.
“Die uitsluitlike doel van ’n borgaansoek is om te bepaal of die beskuldigde of beskuldigdes hul hofdatums sal bywoon. Dis al.”

Volgens hom het Matwa die hof meegedeel dat hy ’n deeltydse taxibestuurder is en ’n huis besit wat hy verhuur. Dolomba is ’n motorwerktuigkundige wat nie George sal verlaat nie en die hof kan streng borgvoorwaardes stel.
Wat Nkabi betref, weet hy nie wat die staat se vrese is nie. Hy het ’n vaste werk in die weermag.

Drama in hof
Daar was Dinsdag drama in die hof toe Bans namens die familie van Lento sy teleurstelling uitgespreek het oor die laatkommery van Mqulo by die hof. Hy het ’n kollega in sy plek gestuur wat eers teen 12:30 by die hof opgedaag het.

Volgens Bans het dit ’n impak op die aansoek en finansiële impliksies vir die beskuldigdes se families. “Dit is onaanvaarbaar,” het hy gesê.

Maande voor DNS- en vingerafdrukverslae
Heyns het op ‘n vraag van die hof geantwoord dat dit tussen twee en drie maande sal neem om die DNS- en vingerafdrukverslae te bekom en sowat ’n maand om die selfoondata te kry. (Deur Garnett Wicomb)