Vyf vinnig vas ná 4de rooftog sedert 19 Julie

Die Halaal Cafe in Voortrekkerweg, een van Oudts­hoorn se besigste strate (bo), en die winkeleienaar, Wageeh Ahmad (onder). Foto’s: Stefan Skapie Goosen

VYF Malawiese burgers wat op Oudtshoorn woon, is Maandag kort ná ’n rooftog by Halaal Cafe in Voortrekkerweg deur die Oudtshoorn Polisie vasgetrek. Hulle het gister in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.

Dit is die vierde gewapende rooftog by ’n besigheid op die dorp sedert ’n transitoroof op 19 Julie by ’n vulstasie in Bridgton plaasgevind het en die Indraf Kafee en PP Kafee in Augustus beroof is. In al vier gevalle is verdagtes kort ná die rooftogte vasgetrek.

Maandag se rooftog, die derde ná mekaar by ’n kafee op die dorp, het volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoer­der, omstreeks 13:30 plaasgevind toe vier mans die winkel binnegestap en een van hulle ’n pistool uitgehaal het. Hulle het si­ga­rette, ’n lugtydmasjien en kontant gevat.

“Die rowers het met ’n wit Mercedes weggejaag. Die eienaar het ’n patrollievoertuig voorgekeer waarna hulle op die uitkyk was vir die wit Mercedes,” het hy gesê.

Volgens Visser is die motor minute later op die hoek van Tabak- en Golfstraat gevind, waar vier mans in hegtenis geneem is. ’n Vyfde man het weggehardloop, maar is nie ver daarvandaan nie in hegtenis geneem nadat hy sy been gebreek het toe hy oor ’n muur probeer spring het.

“Al die eiendom is teruggevind en daar is op ’n gaspistool beslag gelê. ’n Klag van gewapende roof word ondersoek.”

Die eienaar van Halaal Kafee, Wageeh Ahmad, sê dat hy baie bang was tydens die voorval.

Volgens Ahmad, oorspronklik van Egipte, het die mans hom as’t ware omsingel nadat hulle die winkel binnegestap en sy aandag probeer aflei het deur vir die pryse van verskeie produkte op ander plekke in die winkel te vra.

“Twee van hulle het aan weerskante van die toonbank kom staan, en nog twee het na die agterkant van die winkel geloop.

Een van hulle het toe skielik vir my die geweer gewys wat in sy broek versteek was. Ek was alleen in die winkel. Toe hou hulle my hande agter my rug vas en beveel my om agter in die winkel op die vloer te gaan lê,” vertel hy.

Nadat die mans met die Mercedes Benz daar weggery het, het Ahmad dadelik na buite gehardloop waar hy ’n patrollievoertuig van die Polisie opgemerk het.

Hy het hulle toe oor die rooftog ingelig.

“Ek is baie bly dat hulle almal gevang is!” het ’n verligte Ahmad gesê
• Volgens Visser word die vyf mans wat in hegtenis geneem is, nie in hierdie stadium met die vroeëre rooftogte verbind nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)