Vyf susters wen hofstryd oor erfplase

Wyle Kalvyn en Truda de Jager (voor) by hul vyf dogters, agter van links Annelie Jordaan, Elna Slab­ber, Kalene Roux, Surina Serfontein en Trudene For­word. Foto verskaf

DIE Grondwethof het Vrydag (19 Februarie) in ’n baanbrekende uitspraak ’n klousule in ’n testament wat uit 1902 dateer en bepaal dat slegs manlike erf­gename bepaalde plase in die Oudts­hoorn-omgewing mag erf, ongeldig verklaar.

Dié uitspraak van die Grondwethof bring ’n einde aan ’n jarelange hof­stryd waarin vyf susters – Trudene For­word, Annelie Jordaan, Elna Slab­ber, Kalene Roux en Surina Serfontein – die hof genader het om hul pa se grond buite Oudtshoorn te erf.

Hulle pa, Kalvyn de Jager wat in 2015 oorlede is, het geen manlike erf­gename gehad nie en het sy grond, ondanks die klousule in die 1902-testament, aan sy vyf dogters bemaak.

Ingevolge die 1902-testament wat die vyf susters se oupa­grootjie, Carel de Jager, en oumagrootjie, Catharina de Jager, in 1902 onderteken het, moes die grond egter ná hul pa se dood aan sy broer, John de Jager, se drie seuns oorgedra word – Bertus, Johan en Arnold.

Tydens die vyf susters se hofstryd wat deur die drie De Jager-seuns teengestaan is, het eers die Hooggeregshof in 2018 en daarna die Appèlhof in 2019 hul aansoeke om die betrokke klousule ongeldig te laat ver­klaar van die hand gewys, en be­vind dat slegs manlike persone die grond mag erf soos in die 1902-testament bepaal is.

Die Grondwethof het egter verlede week bevind dat dié klousule onaf­dwingbaar is omdat dit ingevolge die Grondwet van 1994 neerkom op onbillike diskriminasie en daarom nou ongeldig is.

In die Grondwethof het hoofregter CJ Mogoeng en agt ander regters in ’n meerderheidsuitspraak die beslis­sings van die Hooggeregshof en die Appèlhof tersyde gestel. Daar was ook ’n minder­heidsuitspraak deur drie regters.

In die meerderheidsuitspraak word verklaar dat die betrokke klousule (klousule 7) in die De Jagers se 1902-testament in stryd is met die Grondwet en die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, Wet 4 van 2000, en daarom onaf­dwingbaar is.

Die koste van James King, die vyf vroue se prokureur, moet deur die boedel van Kalvyn de Jager vereffen word.

Daar is geen kostebevel ten opsigte van die ander partye in die hofgeding gemaak nie.

Die Grondwethof se uitspraak is finaal en daar kan nie daarteen geappelleer word nie.

Die vyf susters het gister in ’n gesamentlike verklaring gesê hulle is bly en dankbaar dat die hofuitspraak in hul guns was.

“Ons sou baie graag wou hê Pa en Ma moet dit weet.

“Ons glo dat dié uitspraak in die toekoms tot voordeel van ander vroue sal kan wees. Die testament is in 1902, dis 119 jaar gelede, opgestel. Ons het intussen ’n Grondwet gekry wat diskriminasie ten opsigte van onder meer geslag verbied.”

• King sê daar was wêreldwyd nog nie ’n soortgelyke uitspraak waarin ’n hof ’n testament of gedeelte daarvan waarin op so ’n manier soos in die betrokke geval teen onmiddellike familielede gediskrimineer word, ongeldig verklaar het nie. (Deur Liesel le Roux)

2 Comments on "Vyf susters wen hofstryd oor erfplase"

  1. Daphne Irine | 28/02/2021 at 12:21 |

    Bloed is dikker as water en erfgeld is nie altyd swerfgeld. Weĺgedaan aan ieder en elk dat regcerdigheid seevier.

Comments are closed.