’N 46-jarige vrou van Dysselsdorp verskyn vandag in die Oudtshoorn Landdroshof nadat 1 030 Mandrax-tablette met ’n beraamde waarde van R61 800 en vermoedelik gesteelde rekenaartoerusting in haar huis gevind is.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het lede van die Dysselsdorp Polisie Saterdag nadat inligting ontvang is, ’n lasbrief bekom om die vrou se woning in die Heinz View C-blok, in Bokkraal, Dysselsdorp te deursoek. 1030 Mandrax-tablette, in kleefplastiek toegedraai, is in die huis gevind, waarna die vrou in hegtenis geneem is. Hulle is bygestaan deur lede van die plaaslike buurtwag.
Rekenaarkaste wat verbind kan word met ’n onlangse inbraak by ’n paaslike skool is ook in die huis gevind en deur die polisie gekonfiskeer.
Die vrou is in hegtenis geneem op klagtes van handel in dwelms en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.