Vier vandag in Oudtshoorn-hof op klagtes van moord na drie mans die naweek sterf

Verskeie families in die Groter Oudtshoorn is die naweek in skok en rou gedompel nadat ‘n 36- en 35-jarige man van Oudtshoorn en ‘n 46-jarige man van Dysselsdorp die naweek gesterf het. In al drie gevalle word klagtes van moord ondersoek.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Demitrie Visagie (36) in die eerste voorval Saterdagoggend (24 April) op die toneel in Rosevalley deur ambulanspersoneel dood verklaar. Visser sê Visagie is omstreeks 04:10 deur polisie op die vloer van ’n woning aangetref imet ’n steekwond in sy nek. ’n 34-jarige vrou is reeds op ’n klagte van moord in hegtenis geneem.

Net meer as ’n uur daarna, omstreeks 05:30, is die 35-jarige Christo Prins per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem nadat hy met ’n baksteen teen die kop gegooi is. Visser sê hy is later die oggend oorlede, en die polisie het twee verdagte mans van 26 en 35 jaar oud op ’n klagte van moord in hegtenis geneem.

’n 41-jarige man van Dysselsdorp verskyn ook vandag in die Oudtshoorn Landdroshof op ’n klagte van moord. Sy 46-jarige broer het Saterdagnag gesterf nadat hy die aand tydens n bakleiery ’n kopbesering opgedoen het. Die oorledene het volgens kapt Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder van die Suid-Kaap, nie wakker geword toe mense hom Sondagoggend probeer wakker maak het nie.

Lees meer in Donderdag se uitgawe van Die Hoorn.